Nuus 16:00
BULLETIN 3 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SABC bevestig die Afrikaanse TV-nuus bly op dieselfde plek op die lug in Julie
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement verseker voortgesette diens ondanks wateruitdagings
# En rugby: Fidji glo hy kan die Wallabies Saterdag verslaan
# Die SABC het bevestig daar sal hierdie maand geen veranderings aan die Afrikaanse TV-nuusbulletinskedule wees nie. Die uitsaaier het in ‘n verklaring beklemtoon die nuus sal steeds in sy huidige weeksdag- en naweek-tydgleuwe uitgesaai word. Hierdie verklaring volg ná ‘n rits veranderings, insluitend ‘n skuif van SABC2 na SABC3 en veranderings aan uitsaai-tye. Die SABC sê sy huidige skedule bly onveranderd.
# Die Nasionale Tesourie waarsku dat veranderings aan die Reserwebank se eienaarskap beleggers kan bekommer en eiendomsregte bedreig. Chris Axelson van die Tesourie het in Kaapstad aan wetgewers gesê die skuif kan beleggings en groei benadeel en sal groot koste-gevolge hê. Die Parlement se komitee op Finansies hersien tans ‘n wetsontwerp om die staat die enigste aandeelhouer te maak en die minister van Finansies die mag te gee om direkteure aan te stel. Die Tesourie waarsku dat die voorstel bestuur en ekonomiese bestendigheid kan ondermyn.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement monitor gesondheidsinrigtings in Johannesburg wat weens Rand Water se voortgesette onderhoudswerk geraak word. Die werk duur tot 21 Julie. Die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal is ten volle in werking en 75-persent van sy nege-miljoen-liter gebergde water is steeds beskikbaar. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê voorrang word aan noodgevalle gegee in die Helen Joseph-hospitaal weens lae watervlakke, maar tenkwaens is ontplooi:
# ActionSA vra die regering en die Ministerie van Polisie om die land se fluitjieblasers te beskerm. Die party sê dit volg op die moord op die hoof van Korporatiewe en Forensiese Ondersoeke in die Stad Ekurhuleni, Mpho Mafole, wat in Kemptonpark doodgeskiet is. Michael Basch van ActionSA sê die moord is die tweede noodlottige aanval en derde gewelddadige aanval op senior amptenare in Ekurhuleni se Departement van Finansies sedert 2023:
# Rugby: Fidji glo hulle kan die Wallabies Sondag in Newcastle klop. Die Australiërs gebruik die wedstryd as voorbereiding vir hulle reeks teen die Britse en Ierse Leeus. Die eilanders is nou negende op die wêreldranglys, net een posisie agter die Wallabies. Australië is onder druk nadat hulle verlede seisoen sewe van hulle 13 toetse verloor het. Hulle het ook gedurende 2023 se Wêreldbekertoernooi in Frankryk teen Fidji verloor. Die eerste van die drie toetse teen die Leeus word die 19de in Brisbane gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-621-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….