Nuus 16:00
BULLETIN 2 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAAI sê die Amerikaanse reis was om ‘n waardevoorstel oor landbou te bied
# ActionSA sê die spoornetwerk bly wanfunksioneel ondaks besteding van miljarde
# En Hiroshima se burgemeester sê Trump moet die stad besoek voor hy uitlatings maak oor atoombomme
# Die uitvoerende direkteur van die landbou-organisasie Saai, Theo de Jager, sê die onlangse reis na Amerika was om ‘n waardevoorstel aan te bied om ekonomiese migrasie te stop met behulp van die landbousektor, deur die beëindiging van armoede en hongerte in Afrika. De Jager sê landbou kan vinniger welvaart skep as enige ander sektor, maar belegging vereis sekerheid, produksiebefondsing en beleidsekerheid. Hy waarsku bedreigings soos grondonteiening sonder vergoeding en plaasaanvalle dien as afskrikmiddel vir broodnodige kapitaal:
Suid-Afrika se landbousektor was op die voorpunt van ekonomiese groei in die eerte kwartaal, met ‘n uitbreiding van 15,8-persent en ‘n bydrae van 0,4- persentasiepunte tot die bruto binnelandse produk. Volgens Stats SA is die groei aangevuur deur tuinbou en diereprodukte. Uitvoere het gestyg tot 61-miljard-rand, terwyl beesvleisuitvoere alleen met 31-persent jaar-op-jaar gestyg het. Die verslag toon dat landbou nou meer as 956-duisend mense in diens het, wat sy vermoë beklemtoon om armoede te verminder. Kenners vra groter belegging in infrastruktuur, finansiering en klimaatsveerkragtigheid om dié stukrag te handhaaf.
# ActionSA sê die spoornetwerk bly wanfunksioneel al het die Departement van Vervoer in die medium-termyn meer as 60-miljard-rand aan die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika toegeken. Die party sê pendelaars het steeds te kampe met onbetroubare diens, infrastruktuur wat verniel is, onvolledige sinjaalstelsels en aanhoudende sekerheidsuitdagings. Malebo Kobe van ActionSA het in die Departement Vervoer se begrotingsdebat in die Parlement die 2,5-miljard-rand gekritiseer wat op die ou geel treine bestee is, asook die gebrek aan ondersteuning vir die taxibedryf:
# Die burgemeester van Hiroshima, Kazumi Matsui, sê die Amerikaanse president, Donald Trump, moet die Japannese stad kom besoek om die gevolge van kernwapens te aanskou. Dit volg nadat Trump 1945 se atoombom-ontploffings vergelyk het met die onlangse lugaanvalle op Iran. Matsui sê Trump moet eers die gebombardeerde gebied besoek om die werklikheid te sien en die gees aan te voel. Amerika het Hiroshima op 6 Augustus 1945 met ‘n atoombom aangeval en drie dae later dieselfde gedoen in Nagasaki. Japan het daarna oorgegee en die Tweede Wêreldoorlog is beëindig.
# Motorsport: Cadillac verwag nie wonderwerke wanneer hy volgende seisoen tot Formule Een toetree nie. Spanhoof Graeme Lowdon sê hulle het eindelose ambisie en genoeg geld, maar sal nie verbaas wees as hulle laaste op die punteleer eindig nie. Die span het in Maart goedkeuring van die beheerliggaam ontvang om die 11de span te word en doen alles moontlik om gereed te wees vir die nuwe seisoen. Hulle het nog nie bestuurders aangewys nie. Cadillac sal met Ferrari-enjins begin, maar beplan om uiteindelik sy eie enjins te vervaardig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-308-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….