Nuus 16:00
BULLETIN 30 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Voormalige Transnet-hoofde kry 50-duisend-rand borgtog elk in die lokomotief-tendersaak van 93-miljoen-rand
# Die Livingstone-hospitaal in Gqeberha is op sy knieë na die vertrek van 74 personeellede
# En tennis: Wimbledon begin in snikhete weer in Londen
# Vier voormalige Transnet-hoofde is borgtog van 50-duisend-rand elk toegestaan in die Palm Ridge Handelsmisdaadhof in Gauteng. Anoj Singh, Brian Molefe, Siyabonga Gama en Thamsanqa Jiyane staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in verband met ‘n lokomotieftender van 93-miljoen-rand in 2015. Die tender word verbind aan ‘n groter ooreenkoms van 54-miljard-rand wat met Gupta-netwerke gekoppel word. Die hof het beslis daar is geen gevaar van inmenging met getuies of ‘n vlugrisiko nie. Jiyane moet sy paspoort inhandig as deel van sy borgtogvoorwaardes.
Die MK-party is intussen bekommerd oor wat hy ‘n ongelyke toepassing van geregtigheid noem na die inhegtenisneming van sy Parlementslede, Molefe en Gama. MK se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, glo swart beroepslui word onregverdig geteiken, veral dié wat met die MK-party verbind word:
# Die DA sê die sale en gange van die Livingstone-hospitaal in Gqeberha in die Oos-Kaap is spookagtig leeg. Vier-en-sewentig personeellede is weg, insluitend 41 mediese beamptes, 15 registrateurs en 18 spesialiste. Die personeel wat oorbly, worstel met ‘n ondraaglike las en pasiënte wag angstig op behandeling. Die DA se woordvoerder, Jane Cowley, sê die Oos-Kaap het die grondwetlike reg op voldoende gesondheidsorg:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê baie skole beskik nie oor die hulpbronne om Kodering en Robotika as vakke in te stel nie en haar departement gaan dit nie verpligtend maak in skole nie. Die departement het sy Jaarlikse Prestasieplan vir die 2025/’26-boekjaar uitgereik. Dit sluit in dat vakke ingestel moet word volgens die beskikbare hulpbronne en die gereedheid van die skoolstelsel.
# Tennis: Die uitvoerende hoof van Wimbledon, Sally Bolton sê die Grand Slam-toernooi is nie gewoond aan skroeiende warm somerweer nie, maar is gereed daarvoor. Daar word verwag dat temperature tot 33-grade kan styg op die eerste dag van die kampioenskap in Londen. Wimbledon, wat gereeld koel, klam weer ondervind, het ‘n hittereël wat ingestel kan word om spelers te beskerm. Dit is grond op ’n hittestres-aanwyser wat ’n aantal faktore in ag neem, insluitend lugtemperatuur, vogtigheid en oppervlak-temperatuur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-709-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-286-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….