Nuus 16:00
BULLETIN 27 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verwerp die DA se ultimatum ná adjunkminister Whitfield se afdanking
# Adjunkpresident Mashatile veroordeel die aanvalle op Iran
# En tennis: Alcaraz begin sy Wimbledon-titel verdedig teen Fognini
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal nie swig voor dreigemente of ultimatums oor sy grondwetlike magte om lede van die uitvoerende gesag aan te stel of te verwyder nie. Dit volg nadat hy Andrew Whitfield van die DA afgedank het as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging omdat hy sonder presidensiële goedkeuring na Amerika gereis het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het bewerings van politiekery verwerp en sê die DA-leier, John Steenhuisen, is vooraf ingelig oor die besluit:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die onlangse aanvalle op Iran veroordeel en vra ‘n blywende wapenstilstand in wêreldwye konflikte. Hy het tydens die G20-jeuggesprek in Sandton, Gauteng, die jeug wêreldwyd aangemoedig om saam te staan en voorstanders vir vreedsame oplossings te wees. Mashatile sê Suid-Afrika verstaan die uitwerking van oorlog op gewone mense en beklemtoon die jeug moet alle beskikbare platforms gebruik om hulle te beywer vir die beëindiging van geweld:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het ‘n reeks maatreëls aangekondig om sekerheid te verbeter by die Wynbergse Landdroshof in Kaapstad na die moord op ‘n beskuldigde. Dingalomoyo Chintso is vroeër vanjaar in die hof doodgeskiet. Direkteur-generaal Doctor Mashabane het die aanbring van ‘n sekerheidskandeerder, die opskerp van toegangsbeheer en die verbetering van die keuring van hofamptenare gelas. Kubayi sê die sekerheid-strategie stel nuwe maniere voor om sekerheidsgapings by al die howe te vermy.
# Tennis: Carlos Alcaraz begin die verdediging van sy Wimbledon-titel teen Fabio Fognini nadat die loting vandag gedoen is. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, kan moontlik in ‘n halfeindstryd teen Novak Djokovic speel. Alcaraz het Djokovic in die laaste twee eindstryde kafgedraf en 18 agtereenvolgende oorwinnings behaal op pad na Wimbledon. Die Spanjaard hoop om slegs die vyfde man te word om drie agtereenvolgende Wimbledon-titels te wen. In die vroue-afdeling begin die verdedigende kampioen, Barbora Krejcikova, haar veldtog op die hoofbaan teen die opkomende ster, Alexandra Eala.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-182-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-278-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-93-sent per vat.
# En laastens, navorsers van die Universiteit Stellenbosch speel ‘n leidende rol in ‘n wêreldwye proefneming wat die gebruik van kunsmatige intelligensie ondersoek om die diagnose van tuberkulose te verbeter. Die projek onder die opskrif, ‘Rekenaarondersteunde diagnose met long-ultraklank vir gemeenskapsgebaseerde pulmonale tuberkulose-sortering in Benin, Mali en Suid-Afrika’, bestaan uit ‘n konsortium van 10 gesondheids- en navorsingsinstellings dwarsdeur Afrika en Europa. Shima Abdulgader van die universiteit sê tuberkulose bly die wêreld se dodelikste aansteeklike siekte, maar word steeds swak gediagnoseer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….