Nuus 16:00
BULLETIN 14 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die ondersoek na die polisie maar eis sterker parlementêre toesig
# ActionSA kritiseer die vertraagde polisie-reaksie in die Jayden-Lee Meek-moordsaak
# En tennis: Sinner versterk sy posisie boaan die wêreldranglys na hy Wimbledon wen
# Die DA verwelkom president Cyril Ramaphosa se aankondiging van ‘n kommissie van ondersoek na bewerings oor wangedrag binne die Polisiediens ná uitlatings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Die DA-lid, Lisa Schickerling, sê die kommissie moet egter nie die Parlement se toesighoudende rol vervang nie. Sy bepleit voortgesette werk deur belangrike portefeuljekomitees om verantwoordbaarheid en deursigtigheid te verseker. Schickerling beklemtoon die Parlement moet onafhanklik en beslissend optree en saamwerk met die uitvoerende gesag se ondersoekpogings om die openbare vertroue te herstel:
Business Leadership SA sê intussen die nuwe kommissie moet die vertragings en gebrek aan optrede verny wat met ondersoeke soos die Zondo-kommissie na staatskaping gesien is. Die organisasie verwelkom die aanstelling van waarnemende hoofregter Mbuyiseli Madlanga om die proses te lei, maar waarsku dat sterk ondersteuning, behoorlike hulpbronne en vinnige optrede benodig word. Hy sê dat diegene wat wetstoepassing ondermyn, moet geskors word, en die kommissie se bevindings moet tot daadwerlike gevolge lei.
# ‘n Lid van ActionSA in die Gautengse uitvoerende komitee, Dereleen James, is teleurgesteld na die inhegtenisneming van Jayden-Lee Meek se ma, Tiffany, vir sy moord. Sy het vanoggend in Roodepoort in die hof verskyn, waarop James die polisie gekritiseer het omdat hulle nie onmiddellik opgetree het toe die kind as vermis aangemeld is nie. Sy beklemtoon die gemeenskap en die polisie het Jayden-Lee in die steek gelaat en meen dat hy moontlik gered sou kon word as sy ouerhuis vroeër deursoek is:
# Die Departement van Landbou het ‘n nuwe uitbreking van bek-en-klouseer op ‘n kommersiële plaas in die Vrystaat bevestig, wat die aantal uitbrekings in vyf provinsies op 270 te staan bring. News24 berig die betrokke plaas naby Kroonstad is onder kwarantyn geplaas terwyl amptenare die bron van die besmetting naspoor. Dit volg op ‘n soortgelyke geval by Karan Beef se voerkraal in Heidelberg, Gauteng, verlede maand. Die regering voer entstowwe vanuit Botswana in en entstofvervaardiging by Onderstepoort word verhoog te midde van stygende beesvleispryse weens die uitbrekings.
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner het sy plek bo-aan die wêreldranglys verbeter nadat hy gister sy eerste Wimbledon-titel en vierde Grand Slam-kroon verower het. Die naaswenner, Carlos Alcaraz van Spanje, bly in die tweede plek met Alexander Zverev van Duitsland derde. Die Amerikaner Taylor Fritz verbeter na vierde en het Jack Draper van Brittanje verbygesteek, gevolg deur Novak Djokovic van Serwië. Die Italianer Lorenzo Musetti is sewende, Holger Rune van Denemarke agtste en die Amerikaner Ben Shelton negende. Die Rus Andrey Rublev het met vier plekke verbeter tot tiende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-713-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….