Nuus 16:00
BULLETIN 20 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die Konstitusionele Hof bly ‘n belangrike simbool van geregtigheid en transformasie in SA
# Die Lughawensmaatskappy begin met ‘n lughawe-instandhoudingsprogram van twee jaar
# En die beroemde Italianers Andrea Bocelli en Jannik Sinner neem ‘n roerende liedjie op
# President Cyril Ramaphosa sê die Konstitusionele Hof is ‘n kragtige simbool van Suid-Afrika se verbintenis tot geregtigheid, gelykheid en transformasie. Hy het tydens die hof se 30ste herdenking in Braamfontein, Johannesburg, gesê die hof is gebou op die wrakstukke van onderdrukking om waardigheid, gelykheid en menseregte te handhaaf. Ramaphosa sê die hof is ‘n hoeksteen van demokrasie, het lewensveranderende uitsprake gelewer en sal voortgaan om die land deur ingewikkelde uitdagings te lei:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het belangrike opdaterings oor sy lughawe-instandhoudingsprogram aangekondig, wat OR Tambo in Gauteng, Kaapstad en ander groot lughawens insluit. Die uitvoerende hoof, Nompumelelo Mpofu, sê die opgraderings, wat oor twee-jaar sal strek, sluit die opknapping van badkamers, lugbrûe, outomatiese mense-vervoerstelsels en terminaaldakke in. Sy beklemtoon ACSA sal die passasierservaring opknap om die betroubaarheid van infrastruktuur in die langtermyn te verseker:
# Colombië en Usbekistan het amptelik aangesluit by die Nuwe Ontwikkelingsbank, ook bekend as die BRICS-bank, wat gelei word deur Suid-Afrika, Brasilië, Rusland, Indië en China. Colombië se minister van Buitelandse Sake, Laura Sarabia, het die land se lidmaatskap bevestig ná president Gustavo Petro se besoek aan China. Usbekistan se goedkeuring versterk sy wêreldwye finansiële bande. Albei lande kry toegang tot befondsing vir ontwikkelingsprojekte, wat alternatiewe bied vir Westerse instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank. Aansoeke vanaf Ethiopië en Indonesië word nog oorweeg.
# Branderski: Die opkomende kampioen van Kaapstad, Jethro Keys, gaan ‘n ‘n opleidingsprogram van drie-maande in Frankryk voltooi saam met die wêreldkampioen, Pablo Arrouays. Keys, wat drie jaar gelede by Big Bay se beginnerskliniek ontdek is, het reeds nasionale kleure verower en was vierde in die Wêreldbranderski-kompetisie. Hy sal in Lacanau opleiding ontvang in hoë-verrigting tegnieke en ook afrigtingstrategieë. Hy hoop om na Kaapstad terug te keer met die vaardighede om sy gemeenskap op te hef en sy plaaslike klub te versterk, terwyl hy mik vir die nommer een-posisie op die ranglys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-969-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-8-sent per vat.
# En laastens, die wêreld se beste manstennisspeler, Jannik Sinner van Italië, en sy wêreldberoemde landgenoot, die tenoor Andrea Bocelli, het kragte saamgesnoer en ‘n enkelsnit vrygestel, onder die titel Polvere e Gloria, wat Stof en Glorie beteken. Die liedjie met Italiaanse en Engelse lirieke word deur Bocelli gesing en bevat uittreksels uit Sinner se wen- en verloortoesprake op die baan. Die video van die liedjie is in Bocelli se ateljee in Toskane opgeneem, met foto’s uit die twee sterre se kinderjare. Sinner beskryf die ervaring as ‘n groot eer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….