Nuus 16:00
BULLETIN 18 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK se voorsitter waarsku teen geheime geld in die politiek
# Die Amerikaanse rolprentvervaardiger Tyler Perry word vir 4,6-miljard-rand gedagvaar oor beweerde seksuele teistering
# En krieket: Bavuma loof sy spanmaats na hulle toetskampioenskaps-oorwinning
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê Suid-Afrika moet dringend sy politieke befondsingswette hervorm om te verhoed dat geheime geld en onregverdige voordeel die demokrasie ondermyn. Moepya het op die kommissie se eerste politieke befondsingsimposium in Durban gewaarsku die huidige reëls kan steeds groter partye bevoordeel. Hy bepleit dat die Parlement deursigtigheid versterk, openbare befondsing verhoog, billike toegang vir kleiner partye en onafhanklike kandidate verseker, en verbeterde afdwinging om vry en oop verkiesings te beskerm:
TERUGAANKONDIGING: Hierdie berig is deur die Nasionale Persklub verskaf.
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, het die dood veroordeel van ‘n Graad 11-leerder van die Lesedi Secondary School in Lethabong, oos van Pretoria. Hy is gister na bewering deur ‘n matriek-leerder doodgesteek. Die verdagte het die slagoffer na bewering ná skool buite die skool aangeval. Die seun is by ‘n plaaslike kliniek dood verklaar. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê sielkundiges en die Skoolveiligheidseenheid is ontplooi en bepleit veiliger skoolomgewings:
# Die akteur van The Oval, Derek Dixon, het die Amerikaanse rolprentvervaardiger en dramaturg Tyler Perry vir 4.6-miljard-rand gedagvaar oor beweerde seksuele teistering, aanranding en vergelding. Dixon, wat op Perry se program verskyn het, beweer hy het sy invloed uitgebuit en hom gedwing om ‘n seksuele verhouding te hê. Die regsgeding van 46-bladsye bevat herhaalde voorvalle vanaf 2019 tot ’21. Perry se regspan beskryf die bewerings as vals en ‘n poging tot afpersing. Dixon eis ‘n verhoor met ‘n jurie in Los Angeles se Hoërhof.
# Krieket: Die Proteas se toetskaptein, Temba Bavuma, sê hulle het oorweldigende ondersteuning van Suid-Afrikaners ontvang na die oorwinning oor Australië in die Wêreldtoetskampioenskap. Hy het op die OR Tambo-lughawe in Gauteng gepraat met die span se terugkeer uit Engeland, waar hulle die eindstryd op Lord’s in Londen gewen het. Hy het sy spanmaats geloof vir hulle poging en sê hulle is trots dat hulle die taak op ‘n behoorlik Suid-Afrikaanse manier verrig het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-743-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-386-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Mej Tiener Suid-Afrika, Pearl Mathebula, is in Peru as Mej Tienermodel Internasionaal gekroon. Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat die kompetisie wen. Die Mej Tiener Suid-Afrika-organisasie beskryf die 17-jarige van Limpopo as ‘n sprekende simbool van Suid-Afrikaanse bemagtiging en kulturele trots op die wêreldverhoog. Pearl se oorwinning word gesien as aanmoediging vir jong Suid-Afrikaanse meisies om hulle drome met vertroue en goedhartigheid na te streef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….