Nuus 16:00
BULLETIN 17 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gaan die G7-beraad in Kanada gebruik om betrekkinge met groot ekonomieë te bevorder
# Jane Goodall se sjimpansee-bewaringsprojek in Tanzanië word geraak deur die onttrekking van Amerikaanse geld
# En rugby: Die Springbok Vroue se hulpafrigter loof hulle onoorwonne veldtog om die Afrikabeker te wen
# Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê president Cyril Ramaphosa gebruik die G7-leiersberaad in Kanada om wêreldwye samewerking rakende belangrike kwessies te versterk. Dit sluit in klimaatsverandering, veldbrandbestuur, die herstel van vrede en energie-oorgang. Magwenya voeg by Ramaphosa sal ook druk uitoefen vir wêreldwye samewerking oor kritieke minerale en konflikoplossing, en sal hande vat met lande soos Portugal:
# ActionSA sê dringende hervormings word benodig om die mislukkings van die regering van nasionale eenheid na sy eerste jaar uit die weg te ruim. Die party het die regering ‘n druipsyfer gegee met die hersiening van sy vertoning in sy eerste jaar, en verwys na oormatige besteding, swak aanspreeklikheid en etiese mislukkings. Athol Trollip van ActionSA sê ministers het nie prestasie-ooreenkomste onderteken nie en amper 400-miljoen-rand op oorsese reise bestee, met slegs vyf van die 32 ministers wat hulle uitgawes ten volle verklaar het:
# Die Wits-universiteit het 22-miljoen-rand se noodbefondsing onmiddellik beskikbaar gestel om nagraadse studente en belangrike navorsingspersoneel in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe te ondersteun. Dit volg nadat die Amerikaanse regering internasionale navorsingsbefondsing vir die mediese veld onverwags gestaak het. Wits sê hierdie fondse sal sowat 75 nagraadse studente in staat stel om hul graad te voltooi, en ongeveer ses maande se oorbruggingsfondse beskikbaar stel vir navorsingspersoneel.
Die etioloog en bewaringskundige, Jane Goodall, se sjimpansee-bewaringsprojek in Tanzanië ondervind intussen ‘n groot finansiële terugslag nadat die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling sy beloofde befondsing van 548-miljoen-rand onttrek het. Die Hoop deur Aksie-projek is in 2023 gestig om bedreigde sjimpansees te beskerm deur die aanplanting van woude en gemeenskapsgeleide metodiek. Die algehele sjimpansee-bevolking het tot minder as 340-duisend gedaal.
# Rugby: Die hulpafrigter van die Springbok-vrouespan, Franzel September, sê hulle is trots en verlig nadat hulle die Rugby Afrika-Vrouebeker in Madagaskar ingepalm het. Die Bok-vroue het oorheers met oorwinnings oor Uganda, Kenia en die gasvroue om die toernooi onoorwonne af te sluit. September het die nuwelinge geprys dat hulle die groot oomblik suksesvol hanteer het, en het die sukses van die integrasie van sewes- en Wêreldbekerspelers uitgelig. Hy sê die veldtog was goed vir die span se selfvertroue voor die Wêreldbekertoernooi wat in Augustus in Engeland begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-688-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-390-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….