Nuus 16:00
BULLETIN 6 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Binnelandse Sake versterk sy immigrasie-afdwingingsvermoë
# FOSA vra ‘n verlenging van die Madlanga-kommissie
# En krieket: Engeland se vroue-kaptein Sciver-Brunt verwerp gerugte oor uittrede
# Die Departement van Binnelandse Sake gaan 301 bykomende immigrasiebeamptes werf om afdwinging te versterk. Die stap sal die huidige werksmag van 868 tot een-duisend-169 amptenare verhoog, wat die vermoë met ongeveer 35-persent verhoog. Minister Leon Schreiber sê die werwing vorm deel van breër hervormings om ‘n veilige, digitale immigrasiestelsel te bou, ondersteun deur nuwe tegnologie en verbeterde diens. Hy sê die doel is om grensbeheer te versterk, die oppergesag van die reg te handhaaf en die integriteit van die immigrasiestelsel te beskerm.
# ‘n Getuienisleier van die Madlanga-kommissie, Adila Hassim, sê die senior Misdaadintelligensie-beampte Feroz Khan het bereidwilligheid getoon om ‘n teenmaatreël in te stel teen die joernalis van Daily Maverick, Marianne Thamm, wat kommer veroorsaak oor moontlike intimidasie. Sy sê dit regverdig ‘n ondersoek, insluitend of enige stappe gedoen is ná ‘n beweerde inbraak by haar huis. Hassim waarsku die gebruik van intelligensie-hulpbronne teen joernaliste ondermyn mediavryheid en verantwoordbaarheid:
Intussen vra Forum for South Africa dat die kommissie nog twee tot drie jaar voortduur, aangesien korrupsie, magsmisbruik en die plundering van openbare fondse ontbloot word. Tebogo Mashilompane van FOSA sê diegene wat betrek word, moet aanspreeklik gehou word, ongeag hul posisie. Hy prys ook die Kwazulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en sê sy onthullings het gehelp om die kommissie te begin, wat ten volle ondersteun en befonds moet word:
# Krieket: Die kaptein van Engeland se vrouespan, Nat Sciver-Brunt, ontken dat sy oorweeg om uit te tree en wil steeds in groot toernooie speel. Australië het Engeland gister op Lord’s met sewe paaltjies verslaan om die T20-Wêreldbekertoernooi ‘n rekord sewende keer te wen. Die 33-jarige Sciver-Brunt, wat die hele toernooi met ‘n kuitspierbesering gesukkel het, sê die nederlaag is moeilik om te aanvaar, maar sy is uiters trots op hulle vertoning:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-70-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-143-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaners word aangemoedig om hul boedels noukeurig te beplan om die finansiële uitwerking van die dood te verminder. Dit is Nasionale Spaarmaand en die finansiële beplanner, Rothea van Biljon, sê wanneer ‘n persoon sterf, beskou die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bates asof dit teen markwaarde verkoop word, wat kapitaalwinsbelasting kan veroorsaak. Sy sê boedelbelasting en eksekuteursfooie verminder boonop die waarde van erflatings, en onvoldoende boedelbeplanning kan gesinne met bevrore bates en onverwagte kostes laat. Van Biljon beveel vroeë boedelbeplanning aan om likiditeit te verbeter en welvaart vir toekomstige geslagte te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….