Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# N-U-M kondig die onmiddellike terugkeer na werk aan by die Bafokeng-platinummyn
# Minister Nxesi is besorg oor die gevaarlike neiging om mynwerkers ondergronds aan te hou
# En, krieket: Sunrisers Eastern Cape pak die Joburg Super Kings in die SA20
# Die mynwerkersvakbond N-U-M het ‘n beroep gedoen op werkers by die Impala Bafokeng-platinummyn in Rustenburg, Noordwes, om spoedig hul werk te hervat. Die vakbond en die myn het tydens suksesvolle onderhandelings ooreengekom om die skorsing van 38 werknemers wat onwettig gestaak het, op te hef en hulle eerder finale skriftelike waarskuwings te gee. Die besluit sluit ook die betaling in van die 2022-aandeel-eienaarskapplan-skematoekennings vir werknemers, plus rente, vroeg volgende maand. Die vakbond sê werkers wat nie dadelik terugkeer nie, sal nie beskerm word nie.
Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, het intussen sy kommer uitgespreek oor die gevaarlike neiging om werkers ondergronds gyselaar te hou deur sitstakings, wat kan lei tot ongevalle. Hy vra leierskap van alle partye moet seëvier en hulle moet in gesprek tree met werkers om ‘n oplossing te vind wat op feite gegrond is. Nxesi sê hulle moet waak teen opportunisme met verhoogde waninligting, wat werknemers moontlik kan mislei en tot geweld aanleiding gee. Volgens Nxesi moet alle partye by die voorgestelde prosesse hou wat die reg toelaat, en om mekaar te vind wanneer ander geskille mag ontstaan.
# Noorweë se Parlement het kommersiële planne goedgekeur om die Noordpoolsee oop te stel vir mineraal-verkenning op die seebodem. Dit baan die weg vir die verkenning van ‘n uitgestrekte gebied van 280-duisend vierkante kilometer van die bodem van die Noordpoolsee, ‘n gebied groter as Brittanje. Noorweë sê dit word gedoen om sy ekonomie van fossielbrandstowwe te laat wegbeweeg. Die besluit het kritiek van die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk ontlok, wat albei ‘n tydelike verbod gevra het weens kommer oor die moontlike uitwerking op die omgewing.
# Krieket: St Georgepark in Gqeberha sal vanaand die gasheer wees vir die langverwagte eerste wedstryd van die tweede SA20-seisoen. Die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, moet hulself vroeg in die toernooi reeds teen die Joburg Super Kings bewys. Die openingswedstryd beloof om ‘n feestelike kragmeting te wees met ‘n magdom sterspelers in albei spanne wat hulle teen hul teenstanders wil opweeg. Die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, voer weer die Sunrisers aan en sê hy is opgewonde:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-381-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-79-sent per vat.
# Ten slotte: Die gevierde sjef, Pieter Malan, is gereed om Suid-Afrika te verteenwoordig by die gesogte I-K-A Kulinêre Olimpiese Spele in Stuttgart, Duitsland. Malan, met sy reputasie dat hy unieke geure en vernuwende kooktegnieke vermeng, het gekwalifiseer as ʼn individuele deelnemer aan die afdeling vir Kulinêre Kuns. Hy is tans die groep uitvoerende sjef vir die Fiesta-hotelgroep in Ghana en sy kulinêre vernuf het verlede jaar die toekenning as Mees Gerespekteerde Uitvoerende Sjef ontvang op die Gasvryheidstoekennings Afrika. Malan is baie opgewonde om deel te wees van die kompetisie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….