Nuus 16:00
BULLETIN 5 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie verdagtes is dood in ‘n skietery met die polisie op die N1-snelweg
# Die batebeslagleggingseenheid bevries R13-miljoen se mynboutoerusting in die Noord-Kaap
# En, John Steenhuisen dank die omstrede Roman Cabanac op sy verjaarsdag af
# Die polisie het drie verdagtes op die N1-snelweg in Sunninghill, Sandton doodgeskiet. Die dramatiese skietvoorval het groot verkeersvertragings tussen Winnie Mandela-rylaan en Rivoniaweg veroorsaak. Die polisie glo die verdagtes was gekoppel aan ‘n reeks huisrooftogte. Die woordvoerder, Mavela Masondo, sê verdere besonderhede is tans onduidelik en beamptes is steeds op die toneel. Motoriste word versoek om die gebied te vermy terwyl die ondersoek voortduur.
# Die Batebeslagleggingseenheid het ‘n bewaringsbevel verkry om beslag te lê op onwettige mynboutoerusting ter waarde van meer as 13-miljoen-rand in Kleinsee en Port Nolloth in die Noord-Kaap. Die Hooggeregshof in Kimberley het die bevel toegestaan vir gereedskap, kragopwekkers, domkraghamers en bore wat gekonfiskeer is op De Beers-eiendomme met beperkte toegang. Mojalefa Senokoatsane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê dit word gedoen om verdere onwettige mynboubedrywighede stop te sit:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het sy omstrede stafhoof, Roman Cabanac, afgedank nadat rassistiese en aanstootlike opmerkings uit sy verlede tot ‘n openbare herrie gelei het op sosiale media. Cabanac, bekend vir sy omstrede menings, het in ‘n video op X bevestig hy is afgedank, en sê hy het sy afdankingsbrief Dinsdag ontvang. Hy oorweeg dit om die saak te betwis:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n nuwe reisverbod onderteken. Dit teiken twaalf lande en tree Maandag in werking. Die verbod is ‘n herlewing van een van die opspraakwekkendste maatreëls van sy eerste ampstermyn. Trump sê die maatreël is aangevuur deur ‘n aanval met ‘n handgemaakte vlamwerper op ‘n Joodse protesaksie in Colorado. Die Amerikaanse owerhede blameer die aanval op ‘n man wat na bewering onwettig in die land was. Ingevolge die verbod is reise na die Verenigde State deur burgers van Afghanistan, Mianmar, Tsjad, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ekwatoriaal-Guinee, Eritrea, Haïti, Iran, Libië, Somalië, Soedan en Jemen nou verbode.
# Rugby: Sewe Suid-Afrikaners is ingesluit in die Verenigde Rugbykampioenskap se Elite Vyftiental. Die span is gekies op grond van stemme van die media van al vyf die lande wat aan die VRK deelneem. Cameron Hanekom, Wilco Louw en Jan-Hendrik Wessels van die Bulle, André Esterhuizen van die Haaie en Sacha Feinberg-Mngomezulu van die Stormers is die plaaslik gebaseerde Suid-Afrikaanse spelers wat in die span ingesluit is. RG Snyman van Leinster in Ierland en Marnus van der Merwe van die Scarlets in Wallis het ook die elite-span gehaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-511-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-395-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….