Nuus 16:00
BULLETIN 4 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi sê meer as 700 000 Suid-Afrikaners wag met rybewys-drukker wat weer stukkend is
# Die Departement van Vervoer ontvang meer as 160 voorstelle vir spoor- en hawedeurgange
# En, rugby: Cian Healy en Shannon Frizell versterk Barbarians se span vir kragmeting teen Springbokke
# Rise Mzansi sê 733-duisend Suid-Afrikaners wag al vir maande vir hul rybewyskaarte terwyl die enigste drukmasjien weer stukkend is. Die masjien is nou al 38 dae buite werking. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het dié reuse-agterstand in die Parlement bevestig. Makashule Gana van Rise Mzansi vra Creecy om die publiek dringend in te lig oor die beloofde verkryging van nuwe masjiene en die vordering met ‘n verklarende bevel wat alles verder vertraag:
# Die Departement van Vervoer sê hy het meer as 160 voorleggings ontvang ná sy onlangse versoek vir privaatsektor-deelname aan spoor- en hawe-infrastruktuur. Minister Barbara Creecy het in Maart die versoek om inligting van stapel gestuur en dit het wye belangstelling gelok, veral in belangrike uitvoerroetes soos minerale, vraghouers en voertuie. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê ‘n nuwe versoek oor passasierspoorvervoer word volgende maand verwag:
# ‘n Nuwe verslag van Greenpeace Africa onthul dat lugbesoedeling die dood van 42-duisend Suid-Afrikaners in 2023 veroorsaak het, insluitend meer as een-duisend-300 kinders jonger as vyf. Volgens Cynthia Moyo van Greenpeace kos fyn partikelbesoedeling, meestal van steenkoolnywerhede, die land meer as 960-miljard-rand. Die gebiede wat die ergste geraak word, is Gauteng, Mpumalanga en die Hoëveld. Greenpeace eis dringende aandag aan die saak, die strenger toepassing van luggehalte-wetgewing en ‘n oorgang na hernubare energiebronne. Moyo doen ook ‘n beroep op besoedelaars om aanspreeklikheid te aanvaar want skoon lug is ‘n reg, nie ‘n voorreg nie.
# Die polisie in Viëtnam het die stigters van ‘n YouTube-kanaal met twee-miljoen volgelinge in hegtenis geneem vir die beweerde verspreiding van vals inligting oor staatsamptenare. Burgerregte-voorstanders sê die regering in die eenparty-Viëtnam het die afgelope paar jaar die onderdrukking van burgerlike samelewing verskerp en wetgewing ingestel om kritici stil te maak, veral diegene wat plasings op sosiale media doen. Human Rights Watch het in April gesê lede van die publiek word geteiken deur ‘n verbreding van die omvang van ‘n artikel in die strafwet, gesentreer op die “skending van staatsbelange”.
# Rugby: Cian Healy van Ierland en Shannon Frizell van Nieu-Seeland is aangekondig as nog twee internasionale spelers wat by die Barbarians aansluit wanneer hulle op op 28 Junie in Kaapstad teen die Springbokke speel. Healy en Frizell, wat tussen hulle al 170 toetse gespeel het, sal hulle by Sam Cane, Peter O’Mahony en Conor Murray vir die wedstryd by Robbie Deans se groep aansluit. Die 37-jarige Healy is Ierland, en ook Leinster, se mees ervare speler. Hy het vroeër vanjaar, na die Sesnasies-toernooi, uit internasionale rugby getree.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-025-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-346-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….