Nuus 16:00
BULLETIN 3 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA gee die regering van nasionale eenheid die skuld vir massawerkloosheid en nywerheidsagteruitgang
# Die DA bepleit verdere besnoeiings aan rompslomp wat hernubare energieprojekte vertraag
# En, Cosatu vra ondersteuning sodat onderwysassistente voltydse opvoeders kan word
# ActionSA sê die jongste ekonomiese groeisyfers bevestig die land se ekonomiese krisis, met groei van slegs 0,1-persent in die eerste drie maande van die jaar. Die party gee die regering van nasionale eenheid die skuld vir die gebrek aan werkskepping asook die herlewing van krimpende sleutelsektore soos mynbou en vervaardiging. Alan Beesley van ActionSA vra dringende hervormings, ondermeer die herstel van energie- en vrag-infrastruktuur en ‘n vermindering in rompslomp om plaaslike nywerheid te bevorder:
# Die DA vra dat die rompslomp wat hernubare energieprojekte vertraag, verder besnoei word. Die party sê die Wes-Kaap wil omgewingsgoedkeurings bespoedig, maar nasionale reëls is steeds te streng, en sekere projekte neem te lank om te verwerk. Die DA-lid, Dave Bryant, doen ‘n beroep vir ‘n amptelike ooreenkoms met die nasionale regering om goedkeurings makliker en vinniger af te handel:
# Cosatu bepleit beter ondersteuning om onderwysassistente te help om voltydse onderwysers te word en so meer loopbaanrigtings vir jongmense oop te stel. Die vakbond sê dit sal onderwys help verbeter, die wanbalans in die onderwyser-leerder ratio verminder en jeugwerkloosheid beveg. Matthew Parks van Cosatu verwelkom die terugkeer van die presidensiële werkstimulus, wat 200-duisend jongmense in staat stel om landswyd as onderwysassistente te werk:
# Regters in die Internasionale Strafhof sal in September die oorlogsmisdaadklagtes teen die voortvlugtige Ugandese krygsheer, Joseph Kony aanhoor. Dit sal die eerste keer in hierdie hof se geskiedenis wees dat die verhoor om aanklagte te bevestig in absentia gehou sal word, aangesien Kony steeds ‘n voortvlugtige is. Hy word aangekla van 39 oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom, wat na bewering tussen Julie 2002 en Desember 2005 in Noord-Uganda gepleeg is. Kony het Uganda se wreedste rebellegroep, die Lord’s Resistance Army, in die 1980’s gestig en gelei.
# Krieket: Dis eindstryd-dag met Virat Kohli se Royal Challengers Bengaluru en Punjab Kings wat mekaar in die Indiese Premierliga in Ahmedabad se Narendra Modi-stadion van 4-uur af pak. Die twee spanne het in die eerste kwalifiseringswedstryd kragte gemeet en RCB het Punjab maklik met agt paaltjies geklop. Die span onder leiding van Shreyas Iyer het egter sedertdien die vyfmalige kampioene Mumbai Indians in die tweede kwalifiseringswedstryd geklop om ‘n eindstryd teen RCB te verdien. Kohli het nog nooit die IPL gewen nie, maar hierdie keer is sy span die gunstelinge.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-408-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….