Nuus 16:00
BULLETIN 28 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapse Forum eis ‘n fokus op dwelmmisbruik in die Joslin Smith-vonnisoplegging
# Die Padongelukkefonds se uitvoerende hoof word op spesiale verlof geplaas te midde van ‘n SOE-ondersoek
# En krieket: Kohli wil baie graag die IPL die eerste keer wen
# Die Kaapse Forum vra die hof en die media om die rol te beklemtoon van dwelmmisbruik, veral tik, terwyl die vonnisverrigtinge van Kelly Smith en haar medebeskuldigdes voortgaan in die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat in Saldanhabaai sit. Hulle is skuldig bevind aan die ontvoering en mensehandel van Smith se jong dogter, Joslin. Voorsitter Heindrich Wyngaard sê hulle beplan ‘n betoging by die hof, en sê dis noodsaaklik om die misbruik van tik uit te lig om toekomstige tragedies te voorkom:
# Die uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, is op spesiale verlof geplaas. Hy word beskuldig van betrokkenheid by ‘n omstrede huurooreenkoms ter waarde van 79-miljoen-rand vir kantore vir die fonds in Johannesburg. Die raad sê die stap is onmiddellik ingestel as ‘n voorsorgmaatreël, maar dui nie noodwendig op ‘n oortreding nie. Die Spesiale Ondersoekeenheid stel tans ondersoek in. Die Departement van Vervoer se woordvoerder, Collen Msibi, sê Phathutshedzo Lukhwareni sal as die waarnemende uitvoerende hoof waarneem.
# Die vakbond GIWUSA eis dat die Nasionale Gesondheidsversekering en ‘n genasionaliseerde gesondheidsorgstelsel onder werkers- en gemeenskapsbeheer onmiddellik ingestel word. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê die algemene huishoudelike opnameverslag toon slegs 15,5-persent van die bevolking het ‘n mediese fonds. Hy sê dit beteken daar bly 84,5-persent oor wat swaar kry weens ‘n openbare gesondheidstelsel wat in duie stort en hospitale en klinieke wat deur te min befondsing, korrupsie en wanbestuur verwoes is:
# Krieket: Virat Kohli kan sy droom verwesenlik om uiteindelik die Indiese Premierliga te wen wanneer die uitspeelwedstryde hierdie week begin en die teleurstelling verdryf toe hy die eindstryd nege jaar gelede as kaptein verloor het. Sy span, Royal Challengers Bengaluru, is tweede op die punteleer en speel môre in die eerste kwalifiseerder teen die voorloper, Punjab Kings. Die wenner dring deur na Dinsdag se eindstryd in Ahmedabad. Die verloorder speel Sondag in die tweede kwalifiseerder teen die wenner van Vrydag se elimineerder tussen Gujarat Titans en Mumbai Indians.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-en-73-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-308-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-23-sent per vat.
# En laastens, vandag is Wêreld Hongerdag, om bewusmaking te verhoog en optrede teen wêreldwye honger te inspireer. Die dag is in 2011 deur The Hunger Project begin. Sowat 2,4-miljard mense worstel wêreldwyd met voedselonsekerheid, terwyl ongeveer 22-persent Suid-Afrikaners honger ervaar. Die dag kyk na volhoubare oplossings, onder meer belegging in landbou, die bemagtiging van kleinboere en die hantering van klimaatsverandering. Die Verenigde Nasies hoop om honger teen 2030 uit te wis, en Wêreld Hongerdag bepleit wêreldwye eenheid om te verseker niemand gaan slaap sonder kos nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….