Nuus 16:00
BULLETIN 26 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA eis die regering moet mislukte logistiek regstel vir ekonomiese herstel
# Minister Malatsi herhaal verbindings is noodsaaklik vir ekonomiese groei
# En krieket: Sestien spelers word ingesluit in die Protea Vroue se toergroep na die Windies
# Business Leadership South Africa versoek die regering om dringend aandag te skenk aan die mislukte logistieke stelsel om te verhoed dat ekonomiese herstel benadeel word. BLSA waarsku voortgesette probleme met hawens, spoor- en vervoerinfrastruktuur veroorsaak vertragings en toenemende koste vir ondernemings, wat ‘n bedreiging is vir groei, belegging en werkskepping. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, vra in haar weeklikse nuusbrief vinnige optrede en beter koördinering om doeltreffendheid te verbeter, handel te ondersteun, en te verseker die ekonomie kan herstel en volhoubaar groei.
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê belegging in infrastruktuur in die kommunikasiesektor is die sleutel tot ekonomiese groei. Malatsi het op die Simposium oor Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling in Kaapstad, die planne herhaal om breëbandinfrastruktuur na landelike gebiede uit te brei. Hy het bevestig vierde- en vyfde-geslag draadlose verbindings sal uitbrei en tweede- en derde-geslag-verbindings sal geleidelik uitfaseer word:
# Build One South Africa sê die skerp styging in seksuele misdade toon die dringende behoefte om die nasionale register vir seksoortreders openbaar te maak. Die polisie se jongste misdaadstatistieke toon dat meer as 13-duisend seksuele oortredings aangemeld is, terwyl kontakaanrandings met 21-persent gestyg het. BOSA wil hê die register moet gedigitaliseer en met skole en werkgewers gedeel word om kwesbares te beskerm. Woordvoerder Roger Solomons glo dat openbare toegang tot die register sal help om herhaalde oortredings te voorkom:
# Die mynwerkersvakbond AMCU veroordeel Sibanye-Stillwater ten sterkste nadat 260 werkers ondergronds vasgekeer was in sy Kloof-myn in Gauteng. Die maatskappy het intussen bevestig alle mynwerkers is gered en geen beserings is aangemeld nie. AMCU se president, Joseph Mathunjwa, eis elke operasionele mynskag moet volgens wet ‘n ontsnappingsroete hê. Die vakbond vra dat Sibanye-Stillwater aanspreeklik gehou moet word en sê die voorval ontbloot ernstige veiligheids-gebreke. Hy bepleit ‘n onmiddellike ondersoek en beklemtoon werkers se lewens kan nie in gevaar gestel word nie.
# Krieket: Sestien spelers is ingesluit in die Protea Vroue se groep vir ‘n witbaltoer na die Wes-Indiese Eilande. Die span sal vanaf 11 Junie drie eendagwedstryde en drie T20s in Barbados speel. Laura Wolvaardt sal die groep aanvoer, wat die terugkeer van die ervare Marizanne Kapp insluit, asook die naatboulers Tumi Sekhukhune en Ayanda Hlubi. Die veelsydige Miané Smit sal die geleentheid kry om haar T20-buiging te maak. Die toer word gebruik as voorbereiding vir die eendag-Wêreldbekertoernooi wat op 29 September in Indië begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-753-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-330-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….