Nuus 16:00
BULLETIN 23 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Moeletsi Mbeki kritiseer Span SA se hantering van Amerika se bewerings oor wit volksmoord
# Die hof verwerp gewese apartheids-polisielede se poging om die Caiphus Nyoka-moordverhoor te beëindig
# En minister Mchunu bevestig 22 polisielede is in die eerste kwartaal van vanjaar vermoor
# Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Sake, Moeletsi Mbeki, het Span Suid-Afrika se hantering van ‘n omstrede vraag oor wit volksmoord in die Withuis in Amerika gekritiseer. Mbeki sê hulle moes vooraf besluit het wie sou reageer. Hy het tydens ‘n onderhoud met SABC News die Amerikaanse president, Donald Trump, beskuldig dat hy probeer om ‘n kolonie in Suid-Afrika te bou deur middel van verdelende grootspraak en politieke manipulering:
# Die Gautengse Hooggeregshof wat in Benoni sit het twee apartheids-polisiebeamptes se Artikel 174-aansoeke van die hand gewys in die Caiphus Nyoka-moordverhoor. Die aktivis van die studente-organisasie Cosas is in 1987 nege keer geskiet. Leon van den Berg en Abraham Engelbrecht het aangevoer dat die staat geen saak teen hulle het nie, maar die hof het nie saamgestem nie. Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat die verhoor van 8 tot 19 September sal voortduur:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê 22 polisielede is in die eerste drie maande van vanjaar vermoor, met tien sterftes wat in Gauteng aangeteken is. Ses van hulle is vermoor terwyl hulle aan diens was, en die ander was van diens. Mchunu het met die bekendmaking van die jongste misdaadstatistiek die regering se verbintenis herbevestig tot die versterking van wetstoepassing en misdaadbestryding reg oor die land:
# Die Franse aktrise Catherine Deneuve het by meer as 900 bekendes aangesluit wat ‘n ope brief onderteken het waarin hulle die beweerde volksmoord in Gaza veroordeel. Dit het begin sirkuleer voor die Cannes-rolprentfees. Ander ondertekenaars sluit in die ster van “Schindler’s List”, Ralph Fiennes, Juliette Binoche, Jonathan Glazer, Richard Gere, Susan Sarandon, Pedro Almodóvar en Mark Ruffalo. Die veldtog genaamd “Kunstenaars vir Fatem”, is aangevuur deur die moord op die Palestynse fotojoernalis Fatima “Fatem” Hassouna, wat die onderwerp was van ‘n dokumentêr wat in Cannes bekend gestel is.
# Motorsport: George Russell glo Mercedes moet beter werkverrigting uit die sy motors haal op die naweek se Grand Prix in Monaco. Die Brit het verlede naweek sewende gekom op die Emilia-Romagna Grand Prix in Imola – die eerste keer dié seisoen dat hy nie onder die voorste vyf was nie. Russell, wat tans vierde is in die bestuurderskampioenskap, sê die nuwe regulasie van twee kuipe-besoeke in Monaco is ‘n geleentheid vir Mercedes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-129-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….