Nuus 16:00
BULLETIN 21 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die brandstofheffing styg vanaf 4 Junie
# AfriForum neem die Wet op Onteiening hof toe as ongrondwetlik
# En KwaZulu-Natal word geteister deur gure weer
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het aangekondig die brandstofheffing sal die eerste keer in drie jaar verhoog word. Dit beteken die algemene brandstofheffing sal vanaf die vierde Junie styg met 16-sent per liter vir petrol en 15-sent per liter vir diesel. Dit is die enigste nuwe belastingvoorstel in vanjaar se begroting en vul ‘n deel van die gaping wat die skrapping van die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte veroorsaak het. Godongwana sê volgende jaar se begroting sal belastingmaatreëls moet insluit om ‘n bykomende 20-miljard-rand in te samel.
# AfriForum het ‘n hofsaak in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aanhangig gemaak om die Wet op Onteiening, Wet 13 van 2024, ongrondwetlik te verklaar. Hy voer aan die wet bedreig private eiendomsreg wat onteiening sonder vergoeding toelaat. AfriForum waarsku dit kan lei tot misbruik deur owerhede wat swak bestuur word. Woordvoerder Ernst van Zyl sê AfriForum is gekant teen die bepaling wat grondbesettings tydens hofgeskille toelaat, en sal plaaslik en internasionaal veg om grondeienaars te beskerm:
# Die pluimveeprodusent Astral Foods waarsku dat Suid-Afrika ernstige ekonomiese gevolge kan ervaar as hy toegang tot die Amerikaanse mark verloor ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. News24 berig die maatskappy sê hoewel plaaslike hoenderplase dalk nie regstreeks geraak sal word nie, kan ander nywerhede soos motor- en vrugte-uitvoere daaronder ly. Astral se uitvoerende hoof, Gary Arnold, sê die pluimveebedryf wil ‘n stem in handelsgesprekke hê en waarsku die regering teen oormatige handelstoegewings. AGOA moet in September hernu word.
# Sokker: Harry Maguire erken Manchester United was nie naastenby goed genoeg nie. Sy sukkelende span hoop om hulle seisoen te red deur die Europaliga-eindstryd te wen. United pak Tottenham vanaand in Bilbao, Spanje, met die hoop om die eerste trofee onder die bestuur van Ruben Amorim te verower. Die span is 16de in die Premierliga en bestem vir die klub se swakste uitslag sedert relegasie in die 1973/74-seisoen. Maguire is deeglik bewus daarvan dat dit onaanvaarbaar is vir ‘n klub met die status van United.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-751-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-305-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-76-sent per vat.
# En gure weer het ‘n provinsiewye rampreaksie in KwaZulu-Natal veroorsaak. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, het spanne geaktiveer nadat donderstorms en skadelike wind vroeg vanoggend tot ‘n vlak twee-weerwaarskuwing gelei het. Die departement se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê rampspanne het ook ‘n veldbrand naby Vryheid in bedwang gebring:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….