Nuus 16:00
BULLETIN 15 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet versoek openbare insette oor die voorgestelde Ekonomiese Transformasiefonds
# ‘n Myn in Barberton beoog om 240 werkers af te dank
# En 54-spelers word uitgenooi na die tweede Springbok-belyningskamp in Kaapstad
# Die kabinet versoek die publiek om hul menings te deel oor ‘n voorgestelde Ekonomiese Transformasiefonds om inklusiewe groei te bevorder en ongelykheid te verminder. Die fonds sal na verwagting klein ondernemings, werkskepping en vaardigheidsontwikkeling ondersteun, veral in minderbevoorregte gemeenskappe. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê openbare insette is die sleutel tot die vorming van ‘n fonds wat sal voldoen aan Suid-Afrika se ontwikkelingsbehoeftes:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê die stryd teen MIV/Vigs in die land sal nie in duie stort weens die onttrekking van Amerikaanse befondsing nie. Hy het die jongste inligting gegee oor die uitwerking van die befondsing wat onttrek is, sowel as die land se reaksie daarop en die vordering wat gemaak is om dit te versag. Die minister sê slegs 7,9-miljard-rand van die 46,8-miljard-rand wat aan MIV/Vigs-befondsing toegeken is, vorm deel van die Amerikaanse Presidensiële Noodplan vir Vigs-verligting:
# Pan African Resources het planne aangekondig om meer as 240 werkers van die Barberton-myn in Mpumalanga af te lê weens stygende bedryfskoste en dalende produksie. Die maatskappy noem verhoogde uitgawes en ’n afname in goudproduksie as die hoofredes vir die vermindering van die werksmag. Volgens die maatskappy is hierdie stap deel van ’n wyer herstrukturering om die myn se volhoubaarheid te verseker te midde van moeilike ekonomiese omstandighede. Vakbonde het kommer uitgespreek oor die werksverliese en onderhandel met bestuur om alternatiewe te vind.
# Rugby: Vier-en-vyftig spelers is genooi na volgende week se tweede Springbok-belyningskamp van die jaar in Kaapstad. Dit sluit in die speler van die jaar in die Varsitybeker-kompetisie, Ntokozo Makhaza van Ikeys, die voormalige Junior Springbok Juarno Augustus en die Haaie se Kongolees-gebore losvoorspeler, Vincent Tshituka. Hoofafrigter Rassie Erasmus sê 36 plaaslik-gebaseerde spelers sal Kaapstad toe reis, terwyl 18 oorsese spelers die kamp virtueel sal bywoon. Hy sê die beseerde Bokke Frans Malherbe, Elrigh Louw, Ben-Jason Dixon, Deon Fourie en Trevor Nyakane is nie oorweeg nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-530-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-181-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het die Springbok- en Bulle-rugbyspeler Cornal Hendricks geloof vir sy deursettingsvermoë en toewyding. Hendricks is gister ná ’n hartaanval oorlede op 37. Sy loopbaan is vroeër onderbreek nadat hy met ’n harttoestand gediagnoseer is. Hy het in 2019 weer teruggekeer in SuperRugby nadat hy ’n tweede mediese mening ontvang het. Mackenzie sê Hendricks laat ‘n groot nalatenskap agter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….