Nuus 16:00
BULLETIN 13 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom stel saans fase 2-beurtkrag in tot Donderdagaand
# Mashatile bepleit ‘n verenigde Afrika-stem voor die G20-beraad
# En Trump kry ‘n koninklike verwelkoming in Saoedi-Arabië
# Eskom het aangekondig fase 2-beurtkrag sal vanaf 4-uur vanmiddag tot 10-uur Donderdag-aand geld gedurende aand-spitstye. Dit is omdat verskeie opwekkingseenhede nog nie in werking gestel is ná onderhoudswerk gedoen is nie, en ‘n bykomende verlies van een-duisend-385 megawatt weens onbeplande onderbrekings. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê spanne werk daaraan om die kragstelsel bestendig te kry en te verbeter:
# Adjunkpresident Paul Mashatile bepleit ‘n verenigde Afrika-stem voor die G20-beraad wat in November plaasvind. Hy het op die Afrika-reisindaba in Durban gesê die beraad is ‘n belangrike geleentheid vir die vasteland om sy belange wêreldwyd te bevorder. Mashatile sê Suid-Afrika, die gasheer, het ‘n verantwoordelikheid om die behoeftes van die vasteland en die Globale Suide te bevorder, gegewe dat dit die enigste Afrika-lid van die G20 is:
# Die Departement van Vervoer het die sperdatum vir reaksie op sy versoek om inligting oor privaat sektor-deelname in Suid-Afrika se spoor- en hawesektore tot 30 Mei verleng. Die departement sê die verlenging volg op oorweldigende belangstelling van belanghebbendes. Die kwessie fokus op sleutelvragkorridors, insluitend dié wat die Noord-Kaap met Saldanhabaai en Nelson Mandelabaai verbind, asook die Richardsbaaise grootmaat-minerale-deurgang. Die plan mik daarop om privaat beleggings te lok om doeltreffendheid en mededingendheid in die logistieke sektor te verbeter.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vandag in Saoedi-Arabië ’n koninklike verwelkoming gekry aan die begin van ’n toer deur die Golf-lande. Dit is die eerste staatsbesoek van sy tweede termyn. Die fokus sal hoofsaaklik op handelsooreenkomste val. Vegvliegtuie het Air Force One begelei voordat lang erewagte hom by die lughawe ingewag het, en by ‘n paleis versier met indrukwekkende kandelare. ’n Lang ry Saoediese koninklikes en sakelui het gewag om hande te skud met Trump en die koninkryk se de facto-heerser, kroonprins Mohammed bin Salman.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Italië, sal teen die gasvrou, China, te staan kom in die kwarteindronde van die Billie Jean King-beker-eindtoernooi in September, terwyl Oekraïne teen Spanje sal speel. Amerika sal Kazakstan aandurf, en Japan sal teen Groot-Brittanje te staan kom. Shenzhen is die gasvroustad vir die vroue-spantoernooi vanaf 10 September, nadat dit aangewys is as gasvrou tot einde 2027. Die toernooi is van 12 na agt spanne verminder om ooreen te stem met die manskompetisie, die Davisbeker, wat in November in Bologna, Italië, plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-530-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-239-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….