Nuus 16:00
BULLETIN 12 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola bevestig die beplanning van Ramaphosa se werksbesoek aan Amerika is in ‘n gevorderde stadium
# Tien spanne ding mee om die agt plekke in die uitspeelrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap
# En Suid-Afrika word verteenwoordig op die Cannes-rolprentfees in Frankryk
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die beplanning van president Cyril Ramaphosa se werksbesoek aan Amerika is in ‘n gevorderde stadium en die datums sal binnekort bevestig word. Dit volg nadat 49 wit Afrikaners gisteraand na Amerika vertrek het nadat president Donald Trump se administrasie vlugtelingstatus aan hulle toegestaan het. Lamola het bewerings van vervolging teen wit Afrikanerboere ontken en sê polisiedata toon geen geteikende misdaadaanvalle nie:
Lamola het intussen Suid-Afrika se ambisieuse G20-padkaart voor die spitsberaad in November onthul, met die fokus op kunsmatige intelligensie, voedselsekerheid en ongelykheid. Lamola het op ‘n nuuskonferensie gesê die Presidensie oefen druk uit vir hervormings in globale finansiële en handelstelsels, sterker klimaatsbefondsing en ondersteuning vir geslagsgelykheid. Hy het burgers gevra om betrokke te raak by die G20-proses en te pleit vir tasbare oplossings vir kwesbares:
# Die Landdroshof in Vredenburg aan die Weskus het borgtog van 500-rand toegestaan aan ‘n vrou wat beskuldig word van brandstigting by Kelly Smith se huis in Middelpos, Saldanhabaai. Die voorval het plaasgevind nadat Smith en haar medebeskuldigdes skuldig bevind is aan ontvoering en mensehandel van die sesjarige Joslin. Die 27-jarige Monique Kekana sal op 25 Junie weer in die hof verskyn. Sy het teenoor Newzroom Afrika geen berou getoon nie en sê sy het dit gedoen om geregtigheid vir Joslin te bekom:
# Rugby: Tien spanne ding mee om die voorste agt posisies in die naweek se laaste liga-ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Bulle is tans in die tweede plek op die punteleer en die Haaie vierde. Albei spanne het reeds gekwalifiseer, terwyl die Stormers vyfde is en nog nie heeltemal veilig is nie. Leinster is eerste en die verdedigende kampioen, Glasgow Warriors, derde. Scarlets, Benetton, Munster, Cardiff en Edinburgh kan steeds die top-agt haal. Vir die Leeus is die kampioenskap egter iets van die verlede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-en-19-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-228-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiger Dian Weys sê hy hoop die land se rolprentbedryf sal aandag trek nadat sy kortfliek gekies is vir die 78ste Cannes-rolprentfees in Frankryk. Aasvoëls is saam met 11 ander uit meer as vier-duisend inskrywings gekies vir die Kortfliek-kompetisie. Die rolverdeling sluit sterre in soos Edwin van der Walt, Jill Levenberg, Albert Pretorius en Oscar Petersen. Die Suid-Afrikaanse regisseur Oliver Hermanus se fliek, The History of Sound, sal aan die Rolprent-kompetisie deelneem. Die fees duur van môre tot die 24ste van die maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….