Nuus 16:00
BULLETIN 9 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu veroordeel die vermeende verkragting van ‘n leerling by die polisie-akademie in Tshwane
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge versoek universiteite om rasseklassifikasie-mandate te verwerp
# En die opening-seremonie van die Olimpiese Spele van 2028 gaan in twee stadions in Los Angeles plaasvind
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die beweerde verkragting van ’n leerling-polisielid deur ’n instrukteur by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Opleidingsakademie in Tshwane ten sterkste veroordeel. Die verdagte is in hegtenis geneem en sou vandag in die hof verskyn. Mchunu het die voorval as ’n gruwelike misbruik van mag en ’n skending van vertroue beskryf. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, het die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat gevra om toe te sien dat geregtigheid geskied:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge vra universiteite om rasseklassifikasie-mandate wat die regering opgelê het, te verwerp. Die organisasie het aan al 26 universiteite geskryf om meriete bo ras- en geslagskwotas te bepleit met die nuwe verslagtydperk oor gelyke indiensneming wat in September begin. Die instituut se woordvoerder, Makone Maja, waarsku gedwonge rasseklassifikasie kan akademiese uitnemendheid benadeel en studente se reg ondermyn om onderrig by die hoogste gekwalifiseerde dosente te ontvang:
# Die Geneesheer-generaal van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Ntshavheni Maphaha, het ‘n strategiese inspeksie voltooi by die nuutgeboude Militêre Basishospitaal in Gqeberha. Hy het die moderne geriewe geprys en die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens se verbintenis herbevestig tot die lewering van omvattende, ontvanklike en billike gesondheidsorg. Maphapa sê die hospitaal is gereed om ‘n spilpunt vir gespesialiseerde mediese dienste in die Oos-Kaap te word en sal later vanjaar jaar amptelik in bedryf gestel word.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê vrede en ontwikkeling in Afrika is diep verweef. Hy sê die toenemende konflik in Suid-Soedan, Soedan en die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo, en die onopgeloste kwessie oor selfbeskikking in Wes-Sahara bly kritieke elemente op die vasteland se veiligheidsagenda. Lamola sê die Suid-Afrikaanse regering is bekommerd oor die toenemende spanning tussen Indië en Pakistan:
# Olimpiese Spele: Die Los Angeles Memorial Coliseum en die SoFi-stadion sal die openingsgeleentheid van 2028 se Spele in die suide van Kalifornië deel – iets wat nog nooit tevore gedoen is nie. Die Coliseum, wat ook die afsluitingsgeleentheid sal aanbied, sal die eerste stadion word om by drie Speles betrokke te wees ná 1932 en ’84. LA-28 se voorsitter, Casey Wasserman, sê hierdie twee plekke sal Los Angeles se ryk sportgeskiedenis en vooruitstrewende toekoms uitlig, en die allerbeste ten toon stel wat die stad op die wêreldverhoog kan bied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-dollar-5-sent. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….