Nuus 16:00
BULLETIN 2 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê ‘n Ghanese burger se dood in Kaapstad hou nie verband met die betogings teen migrante nie
# Gauteng oortref sy teikens in die Lenacapavir-program
# En rugby: ‘n Skare van 55-duisend word Saterdag op Ellispark verwag
# Die regering verwerp Ghana se bewerings dat die noodlottige skietery van ‘n Ghanese burger in Nyanga, Kaapstad, verband hou met Dinsdag se betogings teen migrante. Die polisie sê die man is Maandag geskiet tydens ‘n vermeende afpersingsverwante rooftog in sy haarkappersalon, ‘n dag voor die betogings plaasgevind het. Woordvoerder William Baloyi beskuldig Ghana van die verspreiding van vals inligting, aangesien geen sterftes tydens die betogings aangemeld is nie:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid sê sy Lenacapavir MIV-voorkomingsprogram het teikens vir die bekendstellingsfase oortref en ses-duisend-130 kliënte bereik binne die eerste maand. Dit verteenwoordig 131-persent van die provinsiale teiken. Woordvoerder Steve Mabona sê die produk is in 133 klinieke in Gauteng beskikbaar. Tshwane het die hoogste opname aangeteken, gevolg deur Johannesburg en Ekurhuleni. Mabona sê daar is voldoende voorraad beskikbaar, maar vra dat ander voorkomingsmetodes voortgesit word:
# Die Suid-Afrikaanse boubedryf-reus, Group Five, het amptelik uit sakeredding onttrek ná ‘n suksesvolle herstruktureringsproses van ses-jaar. Die sakereddingspraktisyns Dave Lake en Peter van den Steen het die formele beëindiging van verrigtinge bevestig nadat die herstelplan ten volle ingestel is. Die herstel het finansiële verwagtinge oortref, en die onderneming evalueer die vooruitsig om surpluswaarde aan aandeelhouers terug te gee sodra die finale korporatiewe sake afgehandel is. Minder as 15-persent van die byna ses-duisend werkers wat in diens was toe die onderneming in duie gestort het, is afgelê.
Nuus uit die buiteland:
# Brandbestryders in Suid-Frankryk veg teen verskeie veldbrande wat deur sterk wind aangeblaas word, terwyl die land worstel met uiters droë toestande ná ‘n onlangse hittegolf in Europa. Die minister van Binnelandse Sake, Laurent Nunez, sê drie brande, twee aan die westelike rand van Marseille aan die Middelandse See, het ‘n gesamentlike gebied van meer as een-duisend-200-hektaar verswelg. Die Wêreld-weerkunde-organisasie het verlede week gewaarsku die rekordtemperature in Wes-Europa laat verlede maand vererger die gevaar van veldbrande terwyl plantegroei baie droog is.
# Rugby: ‘n Skare van sowat 55-duisend word verwag vir Saterdag se Nasieskampioenskaps-toets tussen Suid-Afrika en Engeland op Ellispark in Johannesburg, wat sitplek het vir 62-duisend-500 toeskouers. SA Rugby het bewerings ontken oor ‘n gebrek aan belangstelling in die wedstryd tussen die aartsvyande en sê die verkoopsdata weerspreek dit. Dit volg op vroeëre bewerings dat slegs 21-duisend kaartjies teen verlede naweek verkoop is. Kaartjiepryse wissel tussen 450- en drie-duisend-rand elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-135-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-66-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….