Nuus 16:00
BULLETIN 8 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oorskot word gevind wat vermoedelik dié van ‘n vermiste joernalis en sy lewensmaat is
# Suid-Afrika worstel met ‘n dreigende aardgastekort ondanks aflandige ontdekkings
# En sokker: Trump glo deelname aan volgende jaar se Wêreldbekertoernooi kan Rusland aanspoor om die oorlog te beëindig
# Die polisie het oorskot gevind wat vermoedelik dié is van die Pretoriase joernalis Sibusiso Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Precious Mdhluli, wat in Februarie verdwyn het. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die ontdekking is gemaak in ‘n bos op die grens tussen Gauteng, Mpumalanga en Limpopo. Vyf verdagtes is in verband met die saak in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer ontvoering en kaping. Masemola sê DNS-toetse sal die identiteite bevestig:
# Suid-Afrika maak gereed vir ‘n tekort aan aardgas volgende jaar, ondanks aflandige ontdekkings tussen 2019 en ’20. Die Petroleum-agentskap se waarnemende uitvoerende hoof, Bongani Sayidini, berig die Brulpadda- en die Luiperd-velde aflandig van die Suid-Kaapse kus het nie kommersieel lewensvatbare hoeveelhede opgelewer nie. Die voorsitter van die raadgewende raad van Wits se Sakeskool, Priscillah Mabelane, sê Mosambiek se gasvoorraad, wat tans noodsaaklik is vir Suid-Afrika, begin uitgeput raak, met invoere wat na verwagting teen volgende jaar sal eindig:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het vanjaar reeds 1,3-miljard-rand aan privaat diensverskaffers vir studentebehuising uitbetaal teenoor die totaal van 2,9-miljard-rand wat in 2024 betaal is. Die waarnemende uitvoerende hoof, Waseem Carrim, verwys na verbeterde bevestigings-prosesse en ’n beweging na die akkreditering van meer diensverskaffers. Carrim het bevestig dat daar steeds uitdagings is, insluitend onbevestigde studenteregistrasies en vertraagde betalings aan verhuurders. Hy het aangekondig dat NSFAS beplan om teen volgende jaar die bestuur van behuising terug te gee aan die instellings.
# Sokker: Die Amerikaanse president, Donald Trump, is ten gunste van Rusland se deelname aan volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika, en glo dit kan ’n aansporing wees om die oorlog met Oekraïne te beëindig. Trump het tydens ’n vergadering van sy administrasie se taakspan vir die toernooi langs Fifa se president, Gianni Infantino, gesit en was verbaas toe Infantino hom inlig dat Rusland uit internasionale kompetisies verban is nadat die oorlog in Februarie 2022 uitgebreek het. Infantino hoop vrede sal betyds bereik word sodat Rusland weer toegelaat kan word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-511-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-98-sent per vat.
# En laastens, die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het Afrikaans Amptelik 100 van stapel gestuur wat ’n jaarlange viering is van Afrikaans, wat ‘n eeu gelede ’n amptelike taal geword het. Die seremonie het by die Kasteel in Kaapstad plaasgevind. Mackenzie sê die viering eer die taal se wortels in gemeenskappe wat deur slawerny en kolonialisme gevorm is. Hy beklemtoon dat die geleentheid stemme sal versterk wat vir lank onderdruk is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….