Nuus 16:00
BULLETIN 6 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party veroordeel Tshwane se burgemeester oor die afsny van kragtoevoer na die Weskoppies-hospitaal
# Samwu veroordeel die voorlopige afdankingsbriewe aan meer as 300 personeellede van Ekurhuleni se Metropolisie
# En rugby Manie Libbok keer terug vir die Stormers na vier maande op die krukkelys
# Die MK-party in Gauteng het uitgevaar teen wat hy Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, se onmenslike publisiteitsfoefie noem nadat die kragtoevoer na die Weskoppies-psigiatriese hospitaal afgesny is. Die party sê hoewel die hospitaal die stad geld skuld, moet pasiënte met sielkundige probleme en personeel nie ly weens die provinsiale Departement van Gesondheid se administratiewe mislukkings nie. Die party-lid, Abel Tau, sê die stap skend grondwetlike regte en toon ‘n gebrek aan deernis vir kwesbare burgers.
# Die munisipale vakbond Samwu in Ekurhuleni het die stad se besluit gekritiseer om voorlopige ontslagkennisgewings aan meer as 300 personeellede van die Metropolisie uit te reik. Dit volg na hul deelname aan ’n onwettige staking en die versperring van belangrike snelweë in Maart. Tshephang Langa van Samwu sê hierdie drakoniese optrede is nie net onregverdig nie, maar ook ’n kommerwekkende aanval op die basiese regte van werkers. Hy sê die vakbond sal alle beskikbare regshulpbronne en nywerheidsverhoudingskanale ondersoek om die optrede te beveg en die stad aanspreeklik te hou.
# Die Afrika-unie se kommissaris vir Landbou, Moses Vilakati, glo landbou moet ‘n integrale rol speel in die versnelling van ontwikkeling op die vasteland. Hy het gepraat op die bekendstelling van die strategie- en aksieplan vir die Omvattende Afrika Landbou-ontwikkelingsprogram in Kemptonpark, Ekurhuleni. Vilakati het aan SABC News gesê die AU se lidlande moet hierdie plan integreer om hongersnood te verhoed:
# Rugby: Die Springbok-losskakel, Manie Libbok sal die eerste keer in vier maande vir die Stormers speel in Saterdag se voorlaaste Verenigde Rugbykampioenskaps-ligawedstryd teen die Dragons in Kaapstad. Hy het in Januarie sy knie seergemaak. Die wedstryd sal die Bok Damian Willemse se 100ste vir die Stormers wees, terwyl afrigter John Dobson ook die luukse het van die fikse toetsspelers Sacha Feinberg-Mngomezulu en Warrick Gelant. Die Stormers is tans sesde op die punteleer en die Dragons 16de.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 24-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-783-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-376-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-64-sent per vat.
# En laastens, ‘n navorser aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Heike Hartnick, bevraagteken die wets-riglyne van mense wat ontslaan word oor wangedrag buite ‘n werkgewer se perseel en werksure. Sy sê werkgewers in Suid-Afrika moet omvattende en duidelik uitgestippelde sosiale media-beleid instel. Hartnick sê dit moet aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag definieer en dissiplinêre gevolge uiteensit, en daar moet verseker word werknemers is opgelei en ingelig oor die verwagtinge:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….