Nuus 16:00
BULLETIN 5 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê Suid-Afrika sal nie ‘n inklusiewe ekonomie bereik terwyl korrupsie voortduur nie
# Eskom voorspel ‘n beurtkragvrye winter met hoogstens fase 2
# En tennis: Sinner is steeds boaan die wêreldranglys met sy terugkeer na ‘n skorsing van drie maande
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika sal nie ‘n inklusiewe ekonomie bereik terwyl korrupsie in die openbare en private sektor voortduur nie. Hy sê korrupsie belemmer die groei van klein en mediumgrootte ondernemings deur toenemende koste, minder wins, en onsekerheid. Mashatile sê die bevordering van ‘n inklusiewe ekonomie vereis ‘n verbintenis om korrupsie teen te werk deur die versterking van instellings, die koestering van deursigtigheid en verantwoordbaarheid, en die bevordering van betrokkenheid deur landsburgers:
# Die sakegroepe Sakeliga en die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika, NEASA, het die nuwe Wysigingswet op Diensbillikheid as ongrondwetlik, onuitvoerbaar en skadelik gekritiseer. Hulle voer aan die sektor-numeriese teikens kom neer op onwettige rasgegronde kwotas wat ekonomiese waarde kan vernietig. Dit is deel van die DA se regsoptrede waarvolgens beweer word die wet skend gelykheidsregte. Die regering hou vol die teikens is buigsaam en op billikheid gemik. Sakeliga en NEASA beplan gesamentlike regstappe en waarsku oor ernstige ekonomiese en maatskaplike skade indien die wet toegepas word.
# Suid-Afrikaners kan ‘n winter sonder beurtkrag verwag. Die ergste wat verwag kan word, is fase 2-onderbrekings. Die kragvoorsiener se wintervooruitsigte is gegrond op verwagte onderbrekings van tussen 13-duisend en 15-duisend Megawatt. Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, beklemtoon die herstel van Medupi se eenheid 4, Kusile se eenheid 6 en Koeberg se eenheid 1 sal na verwagting ongeveer twee-duisend-500 Megawatt by die netwerk voeg, wat kragvoorsiening tydens spitstye sal versterk:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het vandag die tweede G20 Kultuur-werksgroepsvergadering in Sandton, Johannesburg, geopen. Daar is 24 lande wat met die tema ‘Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid’ vergader. Die vergadering ondersteun Suid-Afrika se G20-voorsitterskap en sluit kernbesprekings in oor onderwerpe soos kulturele erfenis, digitale vernuwing, klimaatsverandering en maatskaplik-ekonomiese integrasie. McKenzie het die rol van kultuur beklemtoon in volhoubare ontwikkeling in ooreenstemming met die wêreldwye strewe na inklusiewe groei en Afrika se Agenda 2063.
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner is steeds die wêreld-nommer-een met sy terugkeer na ‘n skorsing van drie maande nadat hy verlede jaar twee keer positief getoets het vir ‘n opkikker. Alexander Zverev van Duitsland bly tweede, gevolg deur die Spanjaard Carlos Alcaraz en die Amerikaner Taylor Fritz. Die Brit Jack Draper het Novak Djokovic van Serwië verbygesteek en die Noorweër Casper Ruud is nou sewende nadat hy die Madridse Ope gewen het. Alex de Minaur van Australië, die Italianer Lorenzo Musetti en die Deen Holger Rune voltooi die top-tien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-298-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-317-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….