Nuus 16:00
BULLETIN 2 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kelly Smith en mede-aangeklaagdes skuldig bevind in Joslin Smith-saak
# Ntsebeza steun WVK-ondersoek en vra vir fokus op politieke inmenging
# En, Landwye internet-ontwrigting met OpenServe Web Connect wat onderbrekings ondervind
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Saldanhabaai het Kelly Smith, haar kêrel Jacquen Appollis, en vriend Steveno van Rhyn skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel in die saak oor die verdwyning van Joslin Smith. Joslin het op 19 Februarie verlede jaar uit haar huis in Middelpos verdwyn. Regter Nathan Erasmus het beslis die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys. Erasmus moet nog ‘n datum vir vonnisoplegging aankondig:
# ‘n Voormalige regspraktisyn van die Waarheids- en Versoeningskommissie, Dumisa Ntsebeza, het president Cyril Ramaphosa se plan verwelkom om ‘n kommissie op die been te bring wat ondersoek sal instel na vertragings met apartheid-era vervolgings. Dit volg op ‘n regsgeding deur 25 families wat beweer die staat het die NVG se werk van 2003 tot 2017 gedwarsboom. Hy het aan SABC News gesê die ondersoek is ‘n belangrike stap in die rigting van wat hy beskryf as lang verwagte geregtigheid vir slagoffers van menseregteskendings:
# Telkom se groothandel-vastelynafdeling, Openserve, ondervind tans ’n landswye netwerkonderbreking wat sy laekoste Web Connect-veseldiens en vaste LTE-netwerk beïnvloed. Volgens MyBroadband het internetdiensverskaffers Afrihost en Vox wye ontwrigtings bevestig, met kliënte in onder andere Kaapstad, Durban, Pretoria en Hartbeespoort wat geen verbinding het nie. Downdetector het sedert vroeg vanoggend ‘n toename in klagtes getoon. Sommige gebruikers beweer hulle het vir dae reeds geen diens nie. Openserve sê die probleem word ondersoek.
# Krieket: Die Proteas-vrouespan het hul tweede agtereenvolgende eendagwedstryd verloor in die driehoekige reeks in Sri Lanka. Sri Lanka het met vyf paaltjies gewen en 21 balle oor. Die gasvroue het die loot in Colombo gewen en die Suid-Afrikaners eerste laat kolf. Annerie Dercksen het die meeste lopies aangeteken met 61 van 60 balle, en die besoekers het 235 vir nege behaal. Malki Madara het vier paaltjies geneem en Dewmi Vihanga drie. Harshitha Samarawickrama en Kavisha Dilhari se 128-lopie vennootskap om die vierde paaltjie is ‘n nuwe rekord. Die gasvroue het die wenlopies in die 47ste boulbeurt aangeteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-858-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-253-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-84-sent per vat.
# En laastens, honderde motors het pap bande opgedoen nadat ‘n vragmotor op een van Australië se besigste snelweë, 750 kilogram skerp metaalskerwe op die pad gestort het. Die vragmotor het 30 kilometer ver gery voordat die probleem bespeur is. Die insident het veroorsaak dat bane na die stad vir minstens tien ure gesluit was, met die metaalstukke wat die bande van ongeveer 300 motors beskadig het. Volgens die polisie in Nieu-Suid-Wallis het die insident op die M1, vrag- en pendelroete noord van Sydney, plaasgevind. Owerhede het magnete gebruik om die metaalskerwe op te tel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….