Nuus 16:00
BULLETIN 30 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister van Polisie versoek vinnige ondersoek na sterftes van polisiebeamptes
# Minister Godongwana lewer hersiene 2025-begroting op 21 Mei
# En, die Verdediging sê die Staat het geen saak teen Van Rhyn in Joslin Smith-verhoor
# Minister van Polisie, Senzo Mchunu, vra vir ’n vinnige ondersoek na die sterftes van drie polisiebeamptes van Bloemfontein wie se liggame in die Hennopsrivier in Centurion gevind is. Hulle was op pad na Limpopo vir Operasie Vala Umgodi. Mchunu het in Bela-Bela in Limpopo gesê hulle wag op die uitslag van die lykskouings. Hy het ook die publiek gewaarsku om nie te spekuleer nie en vir geduld gevra terwyl die owerhede werk om die oorsaak van die tragedie vas te stel:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gaan die 2025-begroting op 21 Mei weer ter tafel lê. Dit volg na ‘n besluit om die voorgestelde BTW-verhoging van 0.5-persentasiepunte om te keer. Godongwana het aan die media gesê die hersiene begroting sal bygewerkte fiskale projeksies, leningsplanne en inkomsteberamings insluit. Dit sal volledig met die kabinet en politieke partye in die regering van nasionale eenheid bespreek word:
# Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap, wat in Saldanhabaai sit, het gehoor dat die staat geen saak teen Steveno van Rhyn het in die Joslin Smith-verhoor nie. Kelly Smith, Van Rhyn en Jacquen Appollis staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel. Van Rhyn se regsverteenwoordiger, Nobahle Mkabayi, het aangevoer dat die staat klaaglik misluk het om sy saak bo redelike twyfel te bewys. Uitspraak word Vrydag verwag:
# Pakistan sê hy het “betroubare inligting” ontvang dat Indië ’n militêre aanval beplan, en het belowe om terug te slaan. Dit terwyl kommer oor eskalerende konflik toeneem ná ’n dodelike aanval in Kasjmir. Verhoudings tussen die bure, wat albei kernwapens het, het verder verswak nadat Nieu-Delhi vir Pakistan beskuldig het van laasweek se aanval op toeriste. Dit was die dodelikste aanval op burgerlikes in ’n kwarteeu in dié gebied. Indië se Eerste Minister, Narendra Modi het tydens ’n geslote vergadering die weermag “volle operasionele vryheid” gegee om op die aanval te reageer.
# Rugby: Die kaptein van die Junior Springbokke, Riley Norton, sê sy span sien uit na die fisieke uitdaging wanneer hulle môre teen Argentinië in die eerste ronde van die onder-20 Rugbykampioenskap in die Nelson Mandelabaai-stadion te staan kom. Die 2025 toernooi is die tweede weergawe nadat dit vir die eerste keer verlede jaar in Australië gespeel is. Nieu-Seeland en Australië speel moremiddag 2-uur in die eerste wedstryd op dieselfde veld.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 21-rand-18-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-442-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-295-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….