Nuus 16:00
BULLETIN 29 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie liggame, vermoedelik dié van vermiste polisiekonstabels, is in die Hennopsrivier gevind
# Suid-Afrika sê humanitêre ineenstorting in Gaza is ‘n doelbewuste strategie
# en minister Creecy prys die beduidende afname in Paasnaweek-padsterftes
# Drie liggame, vermoedelik dié van polisielede wat verlede week vermis geraak het, is in die Hennopsrivier in Centurion gevind. Die lede, wat op pad van die Vrystaat na Polokwane was, het op 23 April verdwyn terwyl hulle in ‘n wit Volkswagen Polo gereis het. Volgens polisiewoordvoerder Athlenda Mathe is die liggame nog nie geïdentifiseer nie en soektogte en ondersoeke duur voort:
# Suid-Afrika het die Internasionale Geregshof meegedeel die humanitêre ineenstorting in Gaza is nie die gevolg van konflik nie, maar ‘n doelbewuste strategie deur Israel om die Palestynse volk te vernietig. Die hof hoor vandag argumente oor Israel se optrede. President Cyril Ramaphosa se regsadviseur, Nokukhanya Jele, het op die tweede dag van verhore in Den Haag via ‘n tolk aan die hof gesê Israel skend sy pligte deur kollektiewe straf toe te pas:
# Minister van Vervoer, Barbara Creecy sê Suid-Afrika het die laagste aantal padsterftes in drie jaar gedurende die Paasnaweek aangeteken. Botsings het met 32,5-persent verminder en sterftes het met 45,6-persent gedaal in vergelyking met 2024. Creecy skryf die sukses toe aan vroeë beplanning, sigbare verkeerspatrollering, en vennootskappe tussen die gemeenskap en die regering. Meer as 177-duisend voertuie is nagegaan en 941 bestuurders is vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Sy het bevestig dat, behalwe in Mpumalanga en die Oos-Kaap. het ongelukke in die provinsies afgeneem:
# Sokker: Antonio Rüdiger van Real Madrid gaan tot agt weke buite aksie wees nadat hy ’n operasie vir ’n kniebesering ondergaan het. Die Duitse middelveldverdediger is Saterdag van die veld gestuur tydens sy span se Copa del Rey-eindstryd nederlaag teen Barcelona nadat hy ’n voorwerp na die skeidsregter gegooi het. Dit word verwag dat Rudiger vir tussen vier tot 12 wedstryde vir sy uitbarsting in Seville geskors sal word. Die 32-jarige mag wel beskikbaar wees vir Real Madrid se Klubwêreldbeker-veldtog in die Verenigde State, met die toernooi wat op 14 Junie begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 21-rand-11-sent teen die euro en 24-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-080-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-307-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-72-sent per vat.
# En laastens, die Internasionale Koraalrifvereniging sê die beste manier om koraalriwwe te beskerm, is om die oorsaak van klimaatsverandering aan te spreek. Volgens die Internasionale Koraalrif-inisiatief het skadelike verbleiking van die wêreld se koraal toegeneem tot 84-persent van die oseaan se riwwe. Ongeveer 25-persent van alle mariene spesies kan in, op en om koraalriwwe gevind word. Mark Eakin van die vereniging sê dit is noodsaaklik om kweekhuisgasvrystellings wat die planeet verwarm, soos koolstofdioksied en metaan, te verminder om koraalriwwe te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….