Nuus 16:00
BULLETIN 22 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die BTW-verhoging skend armes se grondwetlike regte
# Meer as 17-duisend mense word landwyd aangekeer tydens ‘n misdaadbekampingsoperasie
# En ‘n Hamas-afvaardiging vertrek na Kaïro om nuwe wapenstilstands-voorstelle te bespreek
# Die EFF het in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangevoer die beplande BTW-verhoging wat volgende week in werking tree, is ongrondwetlik en sal ongelykheid vererger. Die party stem saam met die DA dat die verhoging ‘n skending van die Handves van Regte is en dat dit die armes geweldig sal benadeel. Die party se regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, het ook die openbare deelnameproses gekritiseer en beklemtoon 98-persent van die voorleggings was gekant teen die verhoging:
# Meer as 17-duisend-600 mense is die afgelope week tydens verskerpte operasies deur Operasie Shanela in hegtenis geneem. Die afgelope Paasnaweek is meer as 500 onwettige drankwinkels gesluit, met die meerderheid in KwaZulu-Natal. Inhegtenisnemings sluit meer as een-duisend-100 motoriste vir dronkbestuur in, sowel as vir die besit van dwelms en gesoekte verdagtes. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê beamptes het ontvoeringslagoffers in Gauteng en in die Oos-Kaap gered en meer as 100 onwettige mynwerkers is in die Vrystaat en Noordwes vasgetrek:
# Kaapstadse motoriste het kommer uitgespreek oor outomatiese toesigkameras wat gebruik word om sitplekgordelwette toe te pas. Motoriste word beboet vir veiligheidsgordel-oortredings, maar bewyse is onduidelik of ontbreek. Die Stad Kaapstad het bevestig dat kameras vir wetstoepassing gebruik word, maar daar word beweer die stelsel is nie deursigtig nie en kort betroubare bewyse. Die situasie het tot hernude oproepe gelei vir beter oorsig en die regte prosesse om seker te maak bestuurders word nie onregmatig deur outomatiese stelsels gestraf nie.
# ‘n Afvaardiging van Hamas het na Kaïro vertrek om nuwe voorstelle te bespreek wat gemik is op ’n wapenstilstand in Gaza, terwyl 26 mense vandag dood is in Israelse lugaanvalle. Die hernude poging volg nadat Hamas Israel se nuutste voorstel van verlede week verwerp het oor die vrylating van gyselaars wat steeds in Gaza aangehou word. Onderhandelinge het tot dusver geen deurbrake opgelewer sedert Israel sy lug- en grondaanvalle op Gaza op 18 Maart hervat en ‘n wapenstilstand van twee-maande beëindig het nie.
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen Rafael Nadal sê hy mis nie die sport sedert hy in November uitgetree het nie. Die 38-jarige Spanjaard is vereer met die Sportikoon-toekenning op die Laureus-wêreldsporttoekennings in Madrid. Nadal sê hy het sy loopbaan op ’n gelukkige noot afgesluit, maar sou voortgegaan het as dit moontlik was, omdat hy baie lief was vir die sport. Hy sê hy het die gemoedsrus dat hy alles vir tennis gegee het, en het daarin geslaag om daardie hoofstuk van sy lewe af te sluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 21-rand-37-sent teen die euro en 24-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-740-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-458-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….