Nuus 16:00
BULLETIN 17 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA ontbloot bedrieglike padwaardigheidsertifikate in talle provinsies
# Kleinhandelaars van klere en skoene dryf groei in Februarie
# En, koning Charles bring hulde aan humanitêre werkers in sy Paasfeesboodskap
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy het wydverspreide bedrog met die uitreiking van padwaardigheidsertifikate in verskeie provinsies blootgelê. Die ondersoek het aan die lig gebring dat voertuie wat nie inspeksies in Gauteng geslaag het nie, binne minute goedgekeur is by toetspunte in Limpopo en Noordwes. Rudie Heyneke van OUTA waarsku dat onpadwaardige voertuie, wat deur korrupte amptenare moontlik gemaak word, miljoene lewens in gevaar stel, veral tydens besige reisperiodes soos Paasnaweek:
# Kleinhandelverkope in Februarie het volgens Statistiek Suid-Afrika met 3,9-persent gestyg vergeleke met dieselfde maand verlede jaar. Die sterkste groei van 15,7-persent is getoon by kleinhandelaars van tekstiele, klere, skoene en leerware, terwyl algemene handelaars teen 3,4-persent gegroei het. Raquel Floris van Statistiek SA sê egter op ‘n maand-tot-maand-grondslag het seisoensaangepaste verkope met 1,3-persent gedaal vergeleke met Januarie:
# Koning Charles het hulde gebring aan humanitêre werkers wat ander beskerm in oorloggeteisterde lande. In ’n boodskap wat deur Buckingham Paleis uitgereik is, sê die Britse monarg en hoof van die Anglikaanse Kerk, dit is een van die raaisels van die mensdom hoe mense tot beide groot wreedheid en groot barmhartigheid in staat is. Hy sê hierdie paradoks van die menslike natuur kom ook deur in die Paasverhaal. Die mensdom sien verskriklike beelde van menslike lyding, maar ook heldedade in oorloggeteisterde lande waar humanitêre werkers hul lewens waag om ander te beskerm.
# Rugby: La Rochelle se ondertekening van ’n kontrak met ‘n Australiese tiener het daartoe gelei dat Rugby Australië by Wêreldrugby gekla het dat Franse klubs hulle jong talent wegrokkel. La Rochelle het die 16-jarige Reds-speler Visesio Kite gekontrakteer, terwyl die 17-jarige voorspeler Heinz Lemoto glo ook in die visier van welgestelde Top 14-spanne is. Die voorsitter van Rugby Australië, Daniel Herbert, sê Frankryk lewer sy eie spelers op en hoef nie Australië se spelers op ’n baie jong ouderdom te “steel” nie. Hy vra dat Wêreldrugby sy reëls moet versterk om dié praktyk stop te sit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 21-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-793-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-330-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-3-sent per vat.
# En laastens, die onuitwisbare beeld van ’n negejarige Palestynse seun wat albei arms verloor het tydens ’n Israelse aanval op Gaza-stad, het 2025 se Wêreldpersfoto van die Jaar-toekenning gewen. Die foto, geneem deur Samar Abu Elouf vir The New York Times, beeld Mahmoud Ajjour uit wat na Doha ontruim is nadat ’n ontploffing verlede jaar een arm afgeruk en die ander vermink het. Die fotograaf is ook van Gaza en is self in Desember 2023 ontruim. Sy beeld tans swaargewonde Palestyne in Doha uit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….