Nuus 16:00
BULLETIN 16 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra sterker tussenregering-samewerking in die Oos-Kaap
# Die Charlotte Maxeke Hospitaal word hof toe geneem omdat ‘n Zimbabwiese tiener ‘n lewensnoodsaaklike leweroorplanting geweier is
# En Saskok hoop Suid-Afrika kan in 2036 of ’40 die Olimpiese Spele aanbied
# President Cyril Ramaphosa sê sterker tussenregering-samewerking is die sleutel om dienslewering en bestuursuitdagings in die Oos-Kaap op te los. Hy het op ‘n vergadering tussen die nasionale uitvoerende gesag en die provinsiale uitvoerende raad in Nelson Mandelabaai die provinsie se belyning met nasionale voorkeure verwelkom, maar is bekommerd oor agterstande in infrastruktuur, swak dienslewering en finansiële wanbestuur. Ramaphosa bepleit ‘n geloofwaardige, gesamentlike plan wat onder die distriksontwikkelingsmodel val om mense se lewens te verbeter:
# Die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg word hof toe geneem nadat hy geweier het om ’n leweroorplanting te doen op ‘n 15-jarige Zimbabwiese meisie. Die tiener is gediagnoseer met outo-immuun-hepatitis, maar volgens haar ma het die hospitaal geldige dokumente geëis voordat behandeling oorweeg is. Die menseregteprokureur Simba Chitando noem dit blatante xenofobiese optrede terwyl die tiener se toestand steeds verswak. Die gesin voer aan die weiering van diens skend haar grondwetlike reg op lewe en beskerming ingevolge die Kinderwet. Die saak sal binnekort aangehoor word.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die Grensbestuursowerheid en die Departement van Binnelandse Sake om die instelling van die liggaamskamera-beleid onmiddellik te staak. Die vakbond vra ’n deursigtige en inklusiewe raadplegingsproses en dat die owerheid in daadwerklike dialoog met georganiseerde arbeid moet tree om saam ’n beleid te ontwikkel wat eties, wettig en volhoubaar is. Claude Naiker van die vakbond sê werknemers moet geraadpleeg en ten volle ingelig word oor hoe hierdie tegnologie hulle pligte gaan beïnvloed:
# Die voorsitter van Tshwane se Artikel 79-oorsigkomitee, Ngoako Seanego, het die plasings van ‘n wyksraadslid op sosiale media veroordeel, waarin gesê word inwoners moet bome in die middel van die straat plant as ‘n vorm van verset. Seanego beskou hierdie vorm van uitdrukking as opsetlike beskadiging. Hy sê hulle weet die onlangse swaar reën het strate beskadig, maar hulle doen hul bes om die stad se beskikbare hulpbronne te gebruik om die agterstand uit te wis en die onlangs-beskadigde padinfrastruktuur in al sewe streke te herstel.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee hoop dat die land die Olimpiese en Paralimpiese Spele van 2036 of 2040 kan aanbied. Saskok se president, Barry Hendricks, het aan SABC Sport bevestig dat ‘n raadplegingsproses aan die gang is terwyl hulle wag op regeringsondersteuning voordat ‘n amptelike bod bekend gemaak word. Hendricks sê elf ander lande, insluitend Indië en Egipte, stel ook belang om die Spele aan te bied:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 21-rand-39-sent teen die euro en 25-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-43-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-306-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….