Nuus 16:00
BULLETIN 14 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe geregtelike ondersoek na Mxenge se dood word tot Junie uitgestel
# Twee Franse ministers word aangekla oor die selfdood van gesondheidsorgwerkers
# En gholf: Ander lede wens McIlroy geluk met sy insluiting in ‘n eksklusiewe klub vir major-wenners
# Die geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheids-regspraktisyn Griffiths Mxenge in 1981, is tot 17 Junie uitgestel. Twee afsonderlike geregtelike doodsondersoeke na die dood van Mxenge en die voormalige ANC-leier, hoofman Albert Luthuli, het vandag in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, begin. Luthuli het in 1967 in onduidelike omstandighede gesterf. Ncedile Dunywa van die Nasionale Vervolgingsgesag het in die hof gesê bewyse van die geregtelike doodsondersoek in 1967 sal samespanning toon tussen die veiligheidspolisie, distriksgeneeskundiges, patoloë en die landdros:
# Die Gautengse Drankraad het 1,5-miljoen-rand bestee aan 25 hofsake, met 21 wat hy verloor het en vier waarin ‘n skikking bereik is. Volgens die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, spruit die sake uit vertragings in die verwerking van dranklisensie-aansoeke, wat die hele provinsie raak en werksverliese veroorsaak het. Die drankraad se versuim om aan standaard verwerkingstydlyne te voldoen, is wyd gekritiseer. Die raad se ondoeltreffendheid is ook onder skoot omdat ondernemings hof toe moes gaan, wat ‘n vermorsing van openbare fondse is wat eerder vir die raad se werksaamhede gebruik kon word.
# Die Nasionale Studente Finansiële Hulpplan het oproepe aan diensverskaffers herhaal om eise betyds in te dien, aangesien die volgende betaling Donderdag moet plaasvind. Woordvoerder Ishmael Mnisi sê vertragings met die indien van inligting kan die bevestiging en betalings belemmer. Mnisi het die onderneming beklemtoon om uitstaande eise op te los, en gesê dit is van uiterste belang om bestendige lewensomstandighede te handhaaf vir studente wat finansieel ondersteun word en op die skema staatmaak:
# Franse gesondheidsorgwerkers en gesinslede van kollegas wat selfdood gepleeg het, het strafregtelike klagtes ingedien teen twee ministers oor die dodelike werksomstandighede in openbare hospitale. Frankryk se openbare hospitale is die afgelope dekades gedwing om hul uitgawes ingrypend te sny, en dokters en verpleegsters kla al lank oor te min personeel en onvoldoende betaling. Negentien eisers het die minister van Gesondheid, Catherine Vautrin, en die minister van Hoër Onderwys, Elisabeth Borne, beskuldig dat hulle die algehele onwettige en dodelike werksomstandighede in openbare hospitale toelaat.
# Gholf: Die Amerikaner Tiger Woods was een van die eerstes om die Noord-Ierse speler Rory McIlroy te verwelkom in die eksklusiewe klub van spelers wat ‘n loopbaan-Grand Slam van major-titels beklink het. Die 35-jarige-McIlroy het dit gister vermag toe hy die Meesters gewen het. Die vier ander lede is die Suid-Afrikaner Gary Player en die Amerikaners Jack Nicklaus, Ben Hogan en Gene Sarazen. Player sê McIlroy het die standaard vir sy era gestel, terwyl Nicklaus sê hy verwag om voortaan nog baie goeie spel van McIlroy te sien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 21-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-797-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-224-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….