Nuus 16:00
BULLETIN 7 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê SABC vervreem sy Afrikaanse gehoor nadat Saterdag se nuusbulletin nie uitgesaai is nie
# Mashatile sê niemand se huis sal afgeneem word nie, maar die fokus is op groot grondeienaars
# En rugby: Die Bulle pak Edinburgh in die kwarteindronde van die Uitdaagbeker-kompetisie
# AfriForum beskuldig die SABC van die minagting van Afrikaanse kykers nadat die Afrikaanse TV-nuusbulletin nie Saterdagaand uitgesaai is nie. Hulle eis ‘n verduideliking by die openbare uitsaaier omdat geen rede vir die stap verskaf is nie. Alana Bailey van AfriForum waarsku die SABC se versuim om voorsiening te maak vir hierdie getroue en finansieel sterk gehoor kan sy beeld en inkomste benadeel:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering sal nie mense se woonhuise afneem as deel van die grondonteieningspogings nie. Hy het op die Ahmed Kathrad-erfenis-sake-ontbyt in Gauteng gesê die fokus bly op die herverdeling van groot stukke grond wat deur ‘n paar individue besit word om billiker grondbesit te verseker. Mashatile het beklemtoon dat grondhervorming daarop gemik is om ongelykheid teen te werk en nie om gewone burgers te teiken nie, en dit sal op ‘n verantwoordelike en gebalanseerde wyse geskied:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê die ANC het geen reg om hom te verhoed om selfstandig aan verkiesings deel te neem nie. Die SAKP se sekretaris-generaal, Solly Mapaila, dring daarop aan dat die SAKP volgende jaar sal voortgaan met sy poging. Die OVK het die party toegelaat om deel te neem, ondanks ‘n vorige de-registrasie-kennisgewing. Mapaila sê die SAKP, wat deur die mynwerkersvakbond NUM gesteun word, bly vasbeslote, selfs al waarsku die ANC dat dit die progressiewe stem mag verdeel:
# Rugby: Die enigste oorblywende Suid-Afrikaanse span in die Uitdaagbekerkompetisie, die Bulle, speel Saterdag in die Skotse hoofstad teen Edinburgh in die kwarteindronde. Die Bulle het die afgelope naweek die Franse span Bayonne 32-22 verslaan in die ronde van 16, terwyl die Skotte die Haaie uitgekakel het. In die ander kwarteindstryde sal die Franse span Lyon teen die Ospreys van Wallis te staan kom, die Ierse span Connacht speel teen die Franse reuse Racing 92, en Bath van die gewese Springbok-hulpafrigter Johann van Graan speel teen nog ‘n Engelse span, Gloucester.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-39-sent teen die dollar, 21-rand-25-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-670-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-29-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-69-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrika se Zip Zap Circus, ‘n energieke produksie wat deur die gees van ubuntu geïnspireer is, is van die 12de tot die 26ste in die New Victory-teater in New York te sien. MOYA spog met tradisionele rubberstewel- en pantsula-danse en wil lig werp op talentvolle jong mense wat hul doel vind deur sirkus-kuns. Zip Zap se dinamiese dansgroep is op 27 April ook die hoofaantrekkingskrag op die New Victory-gesinskonsert. Uitvoerende hoof en medestigter, Laurence van Rensburg, het sy dankbaarheid en opgewondenheid oor die geleentheid uitgespreek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….