Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Turkye sluit by Maleisië aan wat Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel steun
# Die DA ontbloot toelae-misbruik deur staatsamptenare
# En, krieket: Indië wen die kortste toets in die geskiedenis op Nuweland om die reeks te deel
# Turkye het by Maleisië aangesluit deur steun uit te spreek vir Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel, wat volgende Donderdag in die Internasionale Geregshof in Den Haag aangehoor word. Turkye se Departement van Buitelandse Sake veroordeel die dood van meer as 22-duisend Palestyne, en vra dié wat daarvoor verantwoordelik is, moet ingevolge internasionale reg, aanspreeklik gehou word. Frankryk, wat tans die voorsitter is van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, het onderneem om die hof se besluit te respekteer. Maleisië het ook steun uitgespreek en moedig Israel aan om gruweldade teen Palestyne te beëindig.
# Die DA het wydverspreide wanbestuur blootgelê en onthul meer as vyf-duisend-800 staatsamptenare in verskeie provinsies en nasionale departemente het die Covid-19-maatskaplike noodsverligtings-toelae in 2020 ontvang. Verlede jaar het 33-duisend-833 amptenare se toelae verval en hulle is verwys na die Bedrog- en Voldoeningseenheid omdat hulle nie verpligte hersienings ondergaan het nie. Mimmy Gondwe van die DA sê die party se ondersoek het op een-duisend-815 strafsake afgekom, wat uitgeloop het op gekoördineerde pogings deur die Departement van die Staatsdiens en Administrasie en die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap.
# Die Grensbestuursowerheid het meer as vier-duisend mense verhinder om Suid-Afrika binne te kom met hulle terugkeer van feestydvieringe. Die adjunk-assistentkommissaris, Stephen van Neel, sê die mense is toegang geweier omdat hulle nie oor die behoorlike dokumentasie beskik het nie. Van Neel sê sekerheidsagentskappe is ontplooi om kwesbaarhede langs die grenslyn teen te werk om onwettige immigrasie hok te slaan. Hy sê toetse word ook uitgevoer aangesien baie mense terugkeer van lande waar cholera aanwesig is, insluitende Zimbabwe:
# Krieket: Indië was bobaas in die tweede toets teen Suid-Afrika in Kaapstad, die kortste toets in die geskiedenis. Net 642 balle is afgestuur en 23 paaltjies het gister op die eerste dag gekantel. Dit is ook Indië se heel eerste toetsoorwinning op Nuweland. Die Proteas het hulle tweede beurt op 62 vir drie hervat en dit was net aanvangskolwer, Aiden Markram, met ‘n uitstekende 106 wat Suid-Afrika laat voortkolf het. Die gashere is almal vir 176 uitgeboul en Indië het die teiken van 79 binne 12 beurte vir die verlies van drie paaltjies bereik om die reeks te deel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-374-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-44-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-86-sent per vat.
# Ten slotte: Die Stad Kaapstad sê 85-duisend-916 kinders is sedert die begin van die feestyd op strande in die stad van naambandjies voorsien as deel van sy Identikidz-projek. Die metro het in 2016 met die projek begin om die veiligheid van kinders op strande regoor die metrogebied te verseker. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die meeste kinders aan wie bandjies voorsien is sedert hulle die Identikidz-projek begin het, was op die strande langs die Valsbaai-kus tussen Muizenberg en die Strand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….