Nuus 16:00
BULLETIN 4 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu sê ondersoeke in die verkragtingsaak van die sewe-jarige Cwecwe is in ‘n sensitiewe stadium
# Ronald Lamola sê Suid-Afrika sal Amerikaanse tariewe met veerkragtigheid en innovering hanteer
# En, China gooi petrol op die vuur in die VSA-handelsoorlog
# Minister van Polisie, Senzo Mchunu sê daar is nie op die oomblik getuies in die verkragtingsaak van die sewe-jarige Cwecwe van Matatiele in die Oos-Kaap nie. Die voorval het glo reeds in Oktober 2024 plaasgevind. Tydens ‘n inligtingsessie oor die ondersoeke, het Mchunu sy kommer uitgespreek oor die toenemende gevalle van geslagsgeweld teen kinders. Mchunu het die sensitiwiteit van die saak en die voortgesette ondersoeke beklemtoon, en gesê die polisie kan nie verdere besonderhede deel nie:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika sal in reaksie op die nuwe Amerikaanse tariewe sy marktoegang uitbrei en wêreldwye alliansies versterk. Die regering beplan om handelsverhoudinge uit te brei, met die fokus op markte in Afrika, Asië en die Midde-Ooste. Lamola het op ‘n nuuskonferensie gesê Suid-Afrika sal ook gebruik maak van die Afrika Kontinentale Vryehandelsgebied om streekshandel te verbeter en om afhanklikheid van ‘n enkele mark te verminder wat tariefblootstelling sal verlaag:
En China sal vanaf 10 April 34-persent-tariewe op alle invoere van Amerikaanse goedere instel, nadat Washington swaar nuwe heffings op Chinese produkte ingestel het. China se ministerie van Finansies het aangekondig dit word by die huidige tariefkoers gevoeg. Beijing se ministerie van Handel het ook uitvoerbeheer op sewe seldsame aardelemente ingestel, insluitend gadolinium, wat algemeen in magnetiese resonansiebeelding gebruik word en yttrium, wat in verbruikerselektronika gebruik word. China sal verder ‘n regsgeding by die Wêreldhandelsorganisasie aanhangig maak oor Amerikaanse tariewe.
# Rugby: Die Leeus, Bulle, en Haaie speel hierdie naweek in die ronde van 16 van die Uitdaagbeker. Die Leeus het ‘n opdraande-stryd wanneer hulle 9-uur vanaand teen Edinburgh in Skotland speel. Môremiddag om half twee is die Bulle in Frankryk om teen Bayonne te speel. Die Haaie moet wag tot Sondagaand wanneer hulle om halfsewe teen Lyon ook in Frankryk speel. Die Haaie is die verdedigende kampioene.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 21-rand-8-sent teen die euro en 24-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-412-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-97-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-30-sent per vat.
# En laastens, die Santa Shoebox-projek het aansoeke amptelik geopen vir begunstigdes wat mense toelaat om ‘n skool, creche, of kinder-gefokusde organisasie te benoem wat verdien om Santa Shoeboxes te ontvang. Die Santa Shoebox-projek wat in 2006 in Kaapstad ontstaan het, gee geskenke in skoenebokse aan minderbevoorregte kinders in die land en Namibië. Hy het verlede jaar 74-duisend-751 skoenbokse aan begunstigdes uitgedeel insluitend die Kisima-weeshuis, Hearts of Hope, en die Planet Brain Academy in Namibië. Aansoeke sluit op 24 April.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….