Nuus 16:00
BULLETIN 1 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse daal môre skerp
# Minister Ramokgopa kondig beduidende stappe aan vir energie-uitbreiding
# En tennis: Jasmine Paolini groet haar afrigter na tien jaar
# Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne het aangekondig brandstofpryse gaan môre daal, met die prys van 93-oktaan petrol wat met 58-sent per liter daal en 95-oktaan petrol met 72-sent per liter. Dieselpryse daal met tussen 84- en 86-sent per liter. Robert Maake van die departement sê die aanpassings word toegeskryf aan laer ruoliepryse en ‘n sterker rand:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering doen beduidende stappe teen die energiekrisis deur die uitbreiding van elektrisiteitsoordrag-infrastruktuur. Hy beklemtooon die behoefte aan energiesekerheid en die integrasie van hernubare kragbronne. Ramokgopa sê dié stappe beoog om strukturele energiebeperkings op te los en ekonomiese groei te ontsluit deur doeltreffende en betroubare kragvoorsiening te verseker:
# Die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC beklemtoon die dringendheid van hernuwing binne die party. Sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het planne uiteengesit vir radikale hervorming, wat selfbehae en hekwagterskap uitskakel. Hy het die ANC se toewyding tot dissipline, optrede teen korrupsie, en integriteit deur die slim lidmaatskapkaart beklemtoon. Hy het ook die belangrikheid van politieke onderrig in die party se hernuwingspogings beklemtoon, wat ‘n sterker en meer verantwoordelike ANC vir die toekoms verseker:
# Viëtnam het invoerbelasting gesny op ‘n reeks goedere, insluitend motors, vloeibare gas en sekere landbouprodukte, in wat blyk voorkomende maatreëls te wees voor die Amerikaanse president Donald Trump se tariewe ingestel word. Eerste minister Pham Minh Chinh het verlede maand gesê Hanoi hersien heffings om verhoogde invoere uit die VSA aan te moedig. Washington se handelstekort met Viëtnam is die derde hoogste van alle lande naas China en Mexiko, en daar is toenemende vrese die land kan ‘n sleutelteiken vir Amerikaanse tariewe wees.
# Tennis: Die wêreld se nommer-ses speler, Jasmine Paolini, het haar verbintenis met haar afrigter, Renzo Furlan, na tien jaar beëindig. Die Italianer het onder sy leiding tot die top-tien deurgebreek, in twee Grand Slam-eindstryde gespeel op Roland Garros and Wimbledon, ‘n Olimpiese gouemedalje gewen en die eerste keer gekwalifiseer vir die WTA-eindtoernooi in die enkel- sowel as die dubbelspel. Paolini sê Furlan was belangrik in haar groeiproses en sy is dankbaar vir die wonderlike reis wat hulle gedeel het.
# En ten slotte, die geldsake: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-993-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-131-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….