Nuus 16:00
BULLETIN 28 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingskommissie waarsku oor knaende hoë voedselpryse
# Minister Macpherson kondig vordering aan in die stryd teen die boubedryf-mafia
# En gimnastiek: Die afrigter van Italië se Olimpiese vroue-ritmiese span word na 29-jaar afgedank
# Die Mededingingskommissie het kommer uitgespreek oor volgehoue hoë voedselpryse, ondanks sommige klein prysdalings op sekere items. Die kommissie het sy jongste verslag oor die monitering van basiese voedselpryse vrygestel. Hoewel daar dalings was in die prys van sommige basiese voedselsoorte, soos ingelegde sardyne, het die prys van eiers en sonneblomolie steeds hoog gebly. Die kommissie se woordvoerder, Siyabulela Makunga, vra noukeuriger monitering van pryse om regverdige pryse vir verbruikers te verseker.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het bevestig dat daar beduidende vordering gemaak is in die bekamping van die boubedryf-mafia. Hy het op ‘n nuuskonferensie bekend gemaak dat inhegtenisnemings styg en vertragings met bouwerk teengewerk word. Die minister het bevestig dat hervormings bespoedig word, insluitend die swartlys van nie-presterende kontrakteurs sedert die ondertekening van die Durbanse Verklaring verlede jaar. Hy het ook die infiltrasie van mafiabedrywighede in sekerheidsmaatskappye beklemtoon:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê onreëlmatige uitgawes, swak bestuur en ‘n gebrek aan toesig het voortdurende terugslae in die digitale migrasieprojek van analoog-TV veroorsaak. Die organisasie vra ‘n dringende ondersoek na die projek in ‘n verslag wat aan die Parlement voorgelê is. Andrea van Heerden van OUTA sê doeltreffende gevolgbestuur is noodsaaklik om te verseker kwesbare huishoudings ontvang ondersteuning en dat digitale migrasie doeltreffend afgehandel word:
# Gimnastiek: Italië is op soek na ‘n nuwe afrigter vir sy Olimpiese vroulike ritmiese span nadat Emanuela Maccarani na 29 jaar in die rol afgedank is. Sy word beskuldig van die mishandeling van minderjarige atlete, insluitend kritiek op hul gewig en eetgewoontes. Daar word berig dat gimnaste gedwing is om hulself voor spanmaats te weeg, met afrigters wat hulle beledig as hulle oorgewig gelyk het. Die hofsaak teen die 58-jarige Maccarani volg nadat twee voormalige gimnaste, Anna Basta en Nina Corradini, haar van sielkundige misbruik beskuldig het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-193. Die prys van goud is drie-duisend-en-73-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Boek wat op 8 Maart 2001 aan die Sentrale Biblioteek van die Stad Kaapstad terugbesorg moes word, het uiteindelik ná 24 jaar sy opwagting gemaak. Die boek, French Cinema, deur Roy Armes, is tydens die biblioteek se boetevryeweek terugbesorg. Die persoon wat die boek uitgeneem het, het emigreer en die boek is ontdek toe die persoon se besittings uitgepak is. Hoewel dit nie meer op die stelsel gelys word nie, is dit ‘n geskiedkundige terugkeer. Meer as 13-duisend agterstallige items, ter waarde van 1,6-miljoen-rand, is tot dusver terugbesorg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….