Nuus 16:00
BULLETIN 27 Maart 4 nm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beloof ‘n nasionale omkeerplan vir uitdagings met water- en sanitasie
# Kaapstad se burgemeester lê ‘n begroting van 39,7-mijard-rand voor vir die volgende boekjaar
# En rugby: Neethling Fouché is die Stormers se kaptein in môre se wedstryd teen Ulster
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n nasionale omkeerplan sal ingestel word om water- en sanitasie-uitdagings aan te pak. Die plan sal ooreenstem met die regering se mediumtermyn-ontwikkelingstrategie en fokus op hervormings om die watergehalte, infrastruktuur en dienslewering te verbeter. Daar is 23-miljard-rand in beleggings ingesluit vir waterprojekte en versterkte plaaslike regeringsdienste. Ramaphosa het kwessies soos swak bestuur, opsetlike beskadiging en verouderde infrastruktuur uitgelig in sy toespraak op die Nasionale Water- en Sanitasie-indaba in Midrand:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het ‘n infrastruktuurbelegging van 39,7-miljard-rand oor drie jaar aangekondig met die voorlegging van die metro se begroting vir 2025/’26. Hill-Lewis sê die begroting bring hoop. Hy sê groot hervormings aan die tariefstruktuur sal verdere beduidende verligting vir laerinkomste-huishoudings meebring, met ‘n elektrisiteitsprysverhoging van slegs twee-persent vergeleke met Eskom se nasionale verhoging van 11,32-persent vir munisipaliteite:
# Die Stad Tshwane se Nooddienste het inwoners gemaan om op hul hoede te bly te midde van ‘n Geel Vlak 2-waarskuwing vir hewige donderstorms wat vir vandag uitgereik is. Swaar reën, hael en sterk wind kan tot oorstromings, skade aan infrastruktuur en verkeersontwrigtings lei. Inwoners word aangeraai om binnenshuis te bly, oorstroomde paaie te vermy en noodgevalle aan te meld. Die stad het bevestig dat amptenare op hoë gereedheidsgrondslag sal bly en toestande sal monitor.
# Rugby: Die vaskopstut Neethling Fouché neem die Stormers se kapteinskap oor vir môreaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ulster in Belfast. Hy neem oor by Frans Malherbe, wat verpligte rus kry ingevolge nasionale span-vereistes, saam met die gereelde kaptein, Salmaan Moerat. Connor Evans word op slot ingespan en Dave Ewers sal op flank begin in die plek van die beseerde Deon Fourie. Damian Willemse begin op heelagter, terwyl ‘n gesonde Suleiman Hartzenberg op buite-senter begin. Die ervare skrumskakel, Dewaldt Duvenage is ook terug in die opdrafspan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-960-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-53-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Chinchilla Rooftop Bar and Café in Kampsbaai, Kaapstad, word deur Time Out Travel erken as een van die Top 20 dakkroeë in die wêreld. Die kroeg in Victoriaweg is sesde op die ranglys en word geprys vir sy wonderlike see- en berguitsig, en sy gemaklike sitkamer-opset. Sky Bar by Seen in Lissabon, Portugal is bo aan die lys gevolg deur Le Perchoir in Parys met Terrasse William Gray in Montreal, Kanada, in die derde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….