Nuus 16:00
BULLETIN 26 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 40 politieke partye appelleer teen die OVK se kennisgewing oor deregistrasie
# ‘n Voormalige SAL-raadslid beweer die aanklagte teen haar stel haar lewe in gevaar
# En meer as 32-duisend hektaar grond in die Wes-Kaap is deur brande verwoes
# Die Verkiesingskommissie het meer as 40 voorleggings van politieke partye ontvang na sy kennisgewing rakende die kansellasie van 192 onaktiewe partye. Hierdie partye het versuim om teen die sperdatum van 31 Januarie hul registrasies te hernu en word nie in enige wetgewende instelling verteenwoordig nie. David Mandaha van die OVK sê hul doelwit is om die partyregister op datum te hou, onaktiewe partye te verwyder om kiesersverwarring te verminder en aktiewe partye toe te laat om ongebruikte name en handelsmerke te gebruik:
# ‘n Voormalige raadslid van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Yakhe Kwinana, het aan die Oos-Londense Landdroshof in die Oos-Kaap gesê die aanklagte van afpersing en beskadiging van eiendom teen haar stel haar lewe in gevaar. Sy voer aan dat die beskuldigings haar reputasie skaad en haar dood kan veroorsaak weens Suid-Afrika se afpersingskrisis. Sy vra borgtog van twee-duisend rand. Kwinana het die Nasionale Vervolgingsgesag beskuldig dat hulle misluk het om behoorlike ondersoeke uit te voer, en gesê sy gaan onskuldig pleit:
# CapeNature sê veldbrande het van Oktober 2024 tot aan die einde van Februarie vanjaar altesaam 32-duisend-187 hektaar in die Wes-Kaap vernietig. Die Swartberg-beskermde gebied verteenwoordig sowat die helfte van die gebrande areas en is die swaarste getref. Die instelling het sedert Oktober meer as 12-miljoen-rand bestee aan die bestryding en voorkoming van brande. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê CapeNature werk aan langtermynstrategieë om brandbestuur te verbeter, insluitend die vermindering van brandbare materiaal.
# Die Soedanese leër het Khartoem se lughawe herower van die paramilitêre mag RSF. Soldate het ook die strategiese gebied Jebel Awliya omsingel, wat die laaste groot RSF-vesting in die omgewing van Khartoem was. Die militêre magte, wat sedert April 2023 oorlog voer met die RSF, het hierdie week ‘n aanslag begin om die paramilitêre magte uit sentraal-Khartoem te verdryf nadat hulle Vrydag die presidensiële paleis herower het in ‘n belangrike oorwinning. RSF se magte was sedert die begin van die oorlog op die lughawe gestasioneer.
# Sokker: Bafana Bafana se voorsprong van vyf punte boaan Afrika se Wêreldbeker-kwalifiseringsgroep mag verminder word nadat hy verlede week ‘n speler onwettig gebruik het teen Lesotho. Teboho Mokoena het reeds twee geel kaarte ontvang, wat ‘n outomatiese skorsing van een wedstryd beteken. Die beheerliggaam, SAFA, het erken dat hy in 2023 teen Benin gewaarsku is en weer verlede jaar teen Zimbabwe. Die reëls van die wêreldbeheerliggaam, FIFA, bepaal egter die teenstander moet ‘n klagte indien binne 24-uur na die wedstryd, wat Lesotho blykbaar nie gedoen het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-776-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-25-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….