Nuus 16:00
BULLETIN 25 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake en die Spesiale Ondersoekeenheid werk saam om immigrasie en grenskorrupsie aan te pak
# Suid-Afrika se borgtogstelsel word ondersoek met meer as 16-duisend borgtog-voortvlugtiges
# En meer binnenshuise atletiekbane word gevra na Suid-Afrikaanse atlete se puik prestasie in China
# Die ministerie van Binnelandse Sake en die Spesiale Ondersoekeenheid het die Grensbestuur- en Immigrasie-Teenkorrupsieforum in Pretoria van stapel gestuur. Dit het ten doel om grensbeheer-korrupsie te bekamp. Minister Leon Schreiber sê bedrog bly ‘n ernstige probleem en beklemtoon die behoefte vir aanspreeklikheid. Hy het die onlangse afdanking van korrupte amptenare verwelkom en gewys op die belangrikheid van gekoördineerde pogings om grensveiligheid en immigrasie-integriteit te versterk:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het bevestig een verdagte is in hegtenis geneem ná Saterdag se massaskietery tussen plaaslike patrolleerders en vyf ongeïdentifiseerde mans in Soshanguve, Pretoria. Vier mense is op die toneel dood en agt is beseer. Die dodetal het intussen tot ses gestyg nadat twee mense in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Ses ander is steeds in die hospitaal. Mchunu het inwoners toegespreek en bevestig die owerhede gaan voort met die soektog:
Mchunu het ook aangekondig dat meer as 16-duisend beskuldigdes wat borgtog toegestaan is, voortvlugtend is. Hy het op ‘n parlementêre vraag geantwoord dat meer as vier-duisend-500 van hierdie sake al langer as vyf jaar onopgelos is, terwyl 262 van die voortvlugtendes buitelandse burgers is. Mchunu het bevestig dat hul sake heropen sal word indien hulle weer aangekeer word.
# Atletiek Suid-Afrika se president, James Moloi, het die regering en munisipaliteite aangemoedig om meer binnenshuise atletiekbane te bou. Dit volg op Prudence Sekgodiso se goue medaje in die 800-meter en Akani Simbine se bronsmedalje in die 60-meter op die Wêreld-binnenshuise kampioenskap in Nanjing, China. Moloi het op die OR Tambo Lughawe beklemtoon dat die uitbreiding van binnenshuise geriewe meer atlete sal aanmoedig en Suid-Afrika se mededingendheid op wêreldvlak sal verbeter:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-250-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-16-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-89-sent per vat.
# En laastens, die Filippynse miljardêr Enrique Razon, wie se maatskappy ‘n ooreenkoms van 11-miljard-rand vir Durban se hawe bekom het, het die Pearl Valley Jack Nicklaus-gholflandgoed tussen die Paarl en Franschhoek in die Boland gekoop – insluitend die Pearl Valley-hotel. Een van Suid-Afrika se mees eksklusiewe landgoedere val nou onder SA Gholf, wat deur Razon beheer word. Volgens News24 bestuur die voorste hawe-operateur en gholfgeesdriftige ook gholfklubs in die Filippyne. Val de Vie het voorheen 50-persent van die perseel besit, maar sê hy het nooit beplan om ‘n langtermyn-gholfbaanoperateur te wees nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….