Nuus 16:00
BULLETIN 24 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke kenner vra ‘n beroepsdiplomaat moet die volgende ambassadeur in Amerika word
# ANC-Veteraneliga vra Suid-Afrika om Amerikaanse betrekkinge te herstel
# En motorsport: Lawson kan dalk vervang word by Red Bull na net twee wedrenne
# ‘n Professor in Politieke Wetenskap aan UNISA, Dirk Kotzé, het beklemtoon Suid-Afrika se volgende ambassadeur in Amerika moet ‘n beroepsdiplomaat wees en nie ‘n politieke aanstelling nie. Dit volg op die terugkeer van die voormalige Amerikaanse ambassadeur, Ebrahim Rasool, wat gedwing is om die land te verlaat. Kotzé het aan Newzroom Afrika gesê ‘n ervare diplomaat sal die ingewikkelde internasionale betrekkinge beter hanteer en verseker dat Suid-Afrika se belange doeltreffend verteenwoordig word:
Die ANC-Veteraneliga veroordeel intussen Amerika se behandeling van Rasool en noem dit onwaardig. Hy is uit die land gesit oor sy standpunt rakende die Trump-administrasie. Die ANC-veteraan, Snuki Zikalala, het kommer uitgespreek oor Amerika se wêreldwye invloed. Hy dring aan op die hernuwing van betrekkinge tussen die twee lande met klem op ekonomiese groei en handel, terwyl weerstand gebied word teen toenemende imperialistiese bedreigings:
# Die MK-party het die minister van Justisie, Mamoloko Kubayi, se reaksie op die lang uitstaande geregtelike doodsondersoek na die Cradock-Vier-moorde gekritiseer. Die party beskuldig die regering van ‘n gebrek aan dringendheid om sake van die Waarheids- en Versoeningskommissie af te handel. Veiligheidspolisielede het die anti-apartheidsaktiviste in Junie 1985 ontvoer en vermoor. Die datum vir die geregtelike doodsondersoek is vasgestel vir 2 Junie vanjaar, maar die MK-party beloof om deur middel van die Parlement se portefeuljekomitee op Justisie aanspreeklikheid te eis en veroordeel wat hy noem leë regeringsretoriek.
# ‘n Vyf-en veertigjarige onderwyseres is vanoggend ontvoer by die Spesiale Skool Happydale in Algoapark in Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap. Die polise het bevestig dat drie mans haar omstreeks agt-uur vanoggend in hul voertuig gedwing het terwyl hulle skote in die lug afgevuur het. Geen losprys is nog geëis nie. Videomateriaal wys hoe die slagoffer in die skool se parkeerterrein gegryp word. Die polisie stel ondersoek in en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
# Motorsport: Red Bull se spanhoof, Christian Horner, het nie bespiegeling weerspreek dat Liam Lawson vervang kan word na slegs twee Formule Een-wedrenne dié seisoen nie. Die 23-jarige Nieu-Seelander het nie beïndruk in die eerste Grand Prix in Melbourne, Australië, of die afgelope naweek s’n in Sjanghai, China, nie. Hy is in albei wedrenne in die eerste kwalifiserings-rondes uitgeskakel terwyl sy spanmaat Max Verstappen, die verdedigende wêreldkampioen, relatief goed presteer het. Gerugte lui dat die plaaslike renjaer Yuki Tsunoda by Lawson sal oorneem vir die derde wedren in Japan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-437-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-28-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….