Nuus 16:00
BULLETIN 29 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Crisis Alliance vra dringende ingryping met die humanitêre krisis in South Hills
# Sokker: Pitso Mosimane doen aansoek vir Bafana Bafana se afrigterspos
# En Kaapstad is die wêreld se mooiste stad volgens Time Out
# Die Joburg Crisis Alliance vra dringende ingryping deur die Stad Johannesburg, die Departement van Binnelandse Sake en die Malawiese hoëkommissaris om ‘n humanitêre krisis in South Hills te voorkom. Nokuthula Khwela van die organisasie sê ‘n toenemende aantal Malawiese burgers wat wag op vrywillige repatriasie, plaase ernstige druk op gemeenskapsgroepe wat voedsel en tydelike skuiling verskaf. Sy waarsku dat gebrek aan optrede die krisis kan vererger en spanning kan aanwakker:
Die Departement van Binnelandse Sake sê intussen ‘n kennisgewing op sosiale media oor ‘n beloning van 250‑rand vir die uitwysing van ongedokumenteerde buitelanders is vals en kom nie van die departement of minister Leon Schreiber nie. Die publiek word aangemoedig om inligting eers deur amptelike kanale te bevestig voor dit gedeel word. Die departement sê almal moet ‘n rol speel om betroubare inligting te bevorder, verantwoordelik op te tree en die oppergesag van die reg te respekteer.
# Die Landdroshof in Johannesburg het weer die sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, se aansoek om borgtog geweier. Sy aanvanklike aansoek is vroeër hierdie maand van die hand gewys nadat die hof bevind het sy woonadresse kan nie bevestig word nie. Mogotsi het ‘n nuwe aansoek ingedien, met wat sy regspan as nuwe feite beskryf. Hy bly in aanhouding op aanklagte van meineed, regsverydeling en die onwettige besit van ‘n vuurwapen wat verband hou met ‘n beweerde kamma-sluipmoordpoging in Vosloorus.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het bevestig Bafana Bafana se voormalige afrigter, Pitso Mosimane, het amptelik aansoek gedoen om Hugo Broos as hoofafrigter op te volg. Die voorsitter van SAFA se Tegniese Komitee, Jack Maluleke, sê meer as 80 aansoeke is van plaaslike en internasionale kandidate ontvang, en almal sal dieselfde onderhoudsproses ondergaan. Die nuwe afrigter sal ná die Wêreldbekertoernooi aangestel word om te begin voorberei vir die Afrikabeker-kwalifiseerders, wat in September begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-248-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-46-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad is aangewys as die wêreld se mooiste stad. Volgens Time Out se jongste lys van die wêreld se mooiste stede, het Kaapstad 86-persent van die stemme ontvang. Die res van die top-vyf is Edinburgh in Skotland, Sydney in Australië, Chicago in Amerika en Lissabon in Portugal. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hierdie eerbetoon vier die asemrowende natuurlike skoonheid, maar gaan oor baie meer as net pragtige natuurtonele:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….