Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Wes-Kaapse LUR verwelkom die inhegtenisnemings in driedubbele moord op Nuwejaarsdag
# Die Grensbestuursowerheid hou motoriste wat terugkeer na Suid-Afrika fyn dop
# En, sokker: Kylian Mbappé se toekoms sal oordragperiode oorheers
# Die LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Reagen Allen, verwelkom die inhegtenisneming van twee verdagtes in verband met die skietery op Nuwejaarsdag in Gugulethu. Drie mense is in die voorval dood en een is ernstig beseer. Die verdagtes word van moord en poging tot moord aangekla en sal na verwagting Vrydag in die Landdroshof in Athlone verskyn. Volgens Allen probeer die polisieondersoek bepaal wat die motief vir die skietvoorval was:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê hulle het hulle toesig opgeskerp oor die toenemende verkeer by die Beitbrug-grenspos in Limpopo. Masiapato sê die owerhede wat ontplooi is, is pligsgetrou besig om vakansiegangers wat terugkeer na Suid-Afrika dop te hou, verseker voldoening met die vereiste dokumentasie en verhoed die inbring van vervalste goedere of dwelms oor die grens:
# Die GOOD-party is baie bekommerd oor die president van Burundi, Évariste Ndayishimiye se onlangse opmerkings waarin hy burgers aanmoedig om gay mense te stenig. Dit verhewig die aanslag op seksuele minderhede, wat reeds te doen het met maatskaplike uitsluiting en tronkstraf van tot twee jaar vir selfdegeslag oortredings. Dit reflekteer ook ‘n ontstellende tendens in die streek en stem ooreen met Uganda se streng anti-LGBTQI-plus wette. Die party is teleurgesteld oor die stilswye van Afrika-leiers wat nie die uitspraak veroordeel nie en vra leiers in Suid-Afrika om dit te doen. Hulle is voorstanders van LGBTQI-plus regte en moedig leiers regoor Afrika aan om die hatige retoriek te verwerp.
# Sokker: Kylian Mbappé en sy moontlike skuif na Real Madrid sal na verwagting die hooftema wees tydens die oordragperiode wat Maandag in Europa begin. Mbappé, wie se driekuns verlede jaar nié die knoop vir Frankryk in die Wêreldbekertoernooi kon deurhak nie, sal die hoofonderwerp van bespreking wees. Real Madrid staan voor in die ry om die 25-jarige Mbappé op te raap. Dit is egter nog glad nie ‘n uitgemaakte saak dat Mbappé en die Franse se paaie gaan skei nie omdat hulle geen geheim maak van hul vurige ondersteuning vir hom nie. President Emmanuel Macron het hom in Junie 2022 oorreed om by Paris Saint-Germain aan te bly toe sy skuif na Real byna in die sakkie was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-265-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-45-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-98-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die toekoms lyk rooskleuriger vir die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad se radiostasie. RX Radio word deur en vir jong pasiënte aangebied, en was finansieel in die moeilikheid, wat vroeg verlede jaar gelei het tot die verlies van drie personeellede. Nou het die Media Development and Diversity Agency befondsing van 660-duisend-rand vir die hospitaal goedgekeur, terwyl ‘n Amerikaanse skenker ook meer as ‘n half-miljoen-rand geskenk het. Die stasiebestuurder, Noluyolo Ngomani, sê die finansiële hulp gee RX Radio se toekoms waarlik ‘n hupstoot.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….