Nuus 16:00
BULLETIN 20 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugkoopkoers bly onveranderd
# Die Presidensie verwerp bewerings van kern-samewerking met Iran
# En rugby: Mapimpi keer terug vir die Haaie en Kolisi is kaptein
# Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het besluit om die terugkoopkoers onveranderd te laat op 7,5-persent. Dit volg op drie agtereenvolgende verlagings van 25 basispunte sedert September. Meer in ons volgende bulletin.
# Die Presidensie ontken bewerings dat Suid-Afrika en Iran saamwerk aan kernprogramme en noem die bewerings ongegrond. Die Presidensie herbevestig Suid-Afrika het sy kernwapenprogram voor 1994 laat vaar en die Verenigde Nasies kan die proses bevestig. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, hou vol daar is geen geheime kern-ooreenkomste in Suid-Afrika nie en moedig diegene wat beskuldigings rondslinger aan om bewyse te verskaf. Hy waarsku ook die media teen die verspreiding van onbevestigde aansprake:
Magwenya het ook bevestig dat die regering weens diplomatieke sensitiwiteit met die Stad Johannesburg gesprek voer oor die voorgestelde hernoeming van Sandton-rylaan na die Palestynse politikus Leila Khaled. Dit volg nadat Amerika kommer uitgespreek het oor die naamsverandering. Magwenya het op ‘n nuuskonferensie gesê die proses moet regsprosedures en openbare raadpleging volg terwyl internasionale betrekkinge versigtig bestuur moet word:
# Die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Durban het die saak teen oudpresident Jacob Zuma se dogter tot 14 Augustus uitgestel vir ‘n voorverhoor. Duduzile Zuma-Sambudla word daarvan beskuldig dat sy geweld aangehits het tydens die onrus van Julie 2021. Sy staan tereg op aanklagte van aanhitsing om terrorisme te pleeg en openbare geweldpleging wat verband hou met die onrus wat gevolg het op haar pa se inhegtenisneming. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Mthunzi Mhaga, sê die verhoor sal in November begin:
# Die Rwandees-gesteunde M23-rebellegroep het beheer oorgeneem van die mynbou-spilpunt Walikale in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die oorname van die dorp met sowat 60-duisend inwoners is die verste punt wat die groep in die binneland van die DRK gevorder het sedert dit in 2012 ontstaan het. Die mynmaatskappy Alphamin het vroeër die maand sy werknemers ontruim en bedrywighede by die Bisie-myn in die Walikale-distrik van Noord-Kivu- provinsie gestaak. Die myn is die wêreld se derde grootste kasiteriet-houdende myn en die streek het ook ‘n aantal goudmyne.
# Rugby: Siya Kolisi sal die Haaie Saterdag aanvoer in hulle Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Zebre Parma in Durban. Vincent Tshituka het herstel van sy besering en vervang Lappies Labuschagne, terwyl die Hendrikse-broers, Jaden and Jordan, as skakelpaar op die veld draf. Die Springbok Makazole Mapimpi word terug verwelkom as vleuel, wat beteken dat Ethan Hooker en Jurenzo Julius weer die senterpaar sal wees. André Esterhuizen het ook herstel van sy besering en is op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-496-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-37-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….