Nuus 16:00
BULLETIN 10 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SKOOR beloof om die regering aanspreeklik te hou vir begrotingsbesteding
# Israel stuur ‘n afvaardiging na Katar vir samesprekings oor die verlenging van die wapenstilstand met Hamas
# En rugby: Die Iere word aangemoedig om Saterdag se teleurstellende nederlaag teen Frankryk te vergeet
# Die voorsitter van die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, sê hulle is gereed om regerings-aanspreeklikheid te verseker ten opsigte van begrotingsbesteding. Hy het voor die begrotingsrede kommer uitgespreek oor stygende skuld, ondoeltreffende besteding en die inperking van die USAID-befondsing wat noodsaaklike programme beïnvloed. Zibi beklemtoon dat miljarde-rand verloor word deur waterverliese en uitermatig hoë huurkontrakte. Hy vra deursigtigheid en doeltreffende bestuur van openbare fondse:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het die Verkiesingskommissie versoek om sy stelsels aan te pas om dit te belyn met die departement se digitale transformasiepogings. Hy het op die OVK se konferensie oor elektroniese stemtegnologie in Kaapstad planne uiteengesit om slim identiteitskaarte uit te brei, teen 2029 digitale ID’s bekend te stel en die nasionale bevolkingsregister op te gradeer. Hy sê digitale stelsels moet die stemproses vereenvoudig, doeltreffendheid verbeter en openbare vertroue in verkiesings versterk:
# Israel stuur vandag ‘n afvaardiging na Katar vir ‘n nuwe ronde samesprekings oor die verlenging van die brose wapenstilstand in Gaza, nadat die elektrisiteitstoevoer afgesny is om druk op Hamas te verhoog. Die eerste fase van die ooreenkoms het aan die begin van die maand verstryk sonder ‘n nuwe een oor die volgende stappe. Daar is steeds verskille oor hoe om voort te gaan, met Hamas wat onmiddellike onderhandelinge oor die volgende fase eis en Israel wat die verlenging van fase een verkies.
# Rugby: Ierland se tussentydse hoofafrigter, Simon Easterby, sê hulle moet Saterdag se teleurstellende Sesnasies-nederlaag teen Frankryk in Dublin afskud. Ierland het ‘n gemaklike voorsprong op die punteleer gehad voor hulle 42-27 teen Frankryk verloor het. Engeland het Italië daarna geklop om ook vir Ierland verby te steek. Ierland speel hierdie naweek in die laaste ronde teen Italië en behou steeds druk op Frankryk boaan die punteleer. Frankryk moet Skotland minstens met ‘n bonuspunt klop om doodseker te maak dat hy die eerste keer sedert 2022 as kampioen gekroon word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-319-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-903-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-52-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse beeldhouer en skilder, James Delaney, sê meer metaalbeelde is nodig om openbare parke aantrekliker te maak. Die 53-jarige kunstenaar het die afgelope dekade meer as 100 beeldhouwerke vir The Wilds Park in Johannesburg gemaak. Dit sluit ‘n treffende rooi staalkoedoe, stensel-uile en ʼn pienk kameelperd in. Hy het sy werk ook in Londen, Parys en New York uitgestal. Delaney sê openbare kuns weerspieël Suid-Afrika se voortgesette versoeningsreis:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….