Nuus 16:00
BULLETIN 26 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG bevries ‘n geskorste regter se eiendom van 6,5-miljoen-rand
# Leiers van die Doeane-unie herbevestig hul verbintenis tot streeksintegrasie
# En rugby: Die Stormers se Rugby-instituut werf top skole-spelers vir 2027
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n bewaringsbevel verkry vir ‘n luukse huis in Noordwes wat aan die geskorste regter Portia Phahlane van die Hooggeregshof in Pretoria behoort. Die eiendom van 6,5-miljoen-rand is geleë in die Xanadu Eco-landgoed in Hartbeespoort. Die Batebeslagleggingseenheid beweer dis aangekoop met opbrengste van korrupsie wat verband hou met die opvolg-geskil binne die International Pentecost Holiness Church. Phahlane, haar seun Kagiso, die kerkleier Mike Sandlana en woordvoerder Vusi Ndala staan tereg op aanklagte van onder meer korrupsie en geldwassery. Sy is uit op borgtog van 50-duisend-rand.
# Die Landdroshof in Pretoria het die Medicare24-tenderkorrupsiesaak tot 28 Augustus uitgestel. Verdedigingsadvokate het toegang tot die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se pleitooreenkoms en bykomende saakinligting versoek. Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie se woordvoerder, Henry Mamothame, sê die uitstel sal die staat toelaat om die dossier af te handel, bewyse bekend te maak en moontlike nuwe inhegtenisnemings en bykomende aanklagte te oorweeg, afhangende van Woensdag se hofbelissing:
# Die Madlanga-kommissie het kortliks verdaag nadat die sakeman Tumelo Nku se regsverteenwoordiger, Piet du Plessis, en getuienisleier Tebogo Mosikidi gevra het vir ‘n onderbreking sodat Nku ‘n aanvullende verklaring kan voorberei rondom kwessies wat tydens sy getuienis na vore gekom het. Die bykomende verklaring sal na verwagting sekere besonderhede opklaar in getuienis wat reeds gelewer is voor die verrigtinge hervat. Hy word verbind met die Aeroton-dwelmklopjag in Gauteng.
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die Suider-Afrikaanse Doeane-unie bly die wêreld se oudste werkende doeane-unie en ‘n sleutel-aandrywer van streeksintegrasie. Ministers van Suid-Afrika, Botswana, Eswatini, Lesotho en Namibië vergader om die unie se Strategiese Plan, handels-opknapping en ekonomiese samewerking te hersien. Tau sê lidlande bly steeds verbind tot die versterking van doeanebeheer, die bekamping van onwettige handel en die bevordering van gedeelde beleide vir ekonomiese groei:
# Rugby: Die Stormers se Rugby-instituut by die Akademie vir Sport in Stellenbosch het aangekondig dat 12 talentvolle skole-spelers gewerf is as deel van sy inname vir 2027. Onder hulle is die losvoorspeler van Hoër Landbouskool Oakdale, Jacobus de Villiers – broer van die Stormers-flank Paul de Villiers – en Grey Kollege se heelagter, Lamla Mgedezi. Paul Roos se kaptein en senter, Tiaan Basson, en Wynberg High se losskakel, Achmat Behardien, gee ook die eerste treë van hulle beroepsloopbane onder die wakende oog van Jacques Hanekom van die instituut.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-665-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-47-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….