Nuus 16:00
BULLETIN 6 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa waarsku oor bestuursmislukkings en infrastruktuur-uitdagings in Gauteng
# Die Wes-Kaapse regering loof alle rolspelers met die suksesvolle vervolging van die Paarlse brandstigter
# En Lesotho is gebelgd oor Donald Trump se afbrekende opmerkings oor die land
# President Cyril Ramaphosa waarsku dat bestuursmislukkings en swak infrastruktuur in Gauteng ‘n bedreiging vir vooruitgang in die provinsie is. Hy het in Johannesburg teenoor provinsiale leiers finansiële wanbestuur, onbetroubare dienslewering en toenemende misdaad beklemtoon. Ramaphosa het regeringsleiers aangemoedig om saam te werk om die uitdagings doeltreffender aan te pak, om ekonomiese groei te versterk en werk te skep. Hy sê Gauteng se sukses is noodsaaklik vir Suid-Afrika se ekonomie:
# Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid het ‘n landswye veiligheidsoudit vir vissersbote aangekondig in Gqeberha se hawe. Die veldtog van vier maande beoog om veiligheid in die kommersiële visvangsektor te versterk. Dit wil die nakoming van maritieme regulasies bepaal, risiko’s identifiseer vergeleke met die ouderdom van bote en instandhouding, en die hantering van noodsituasies. Bote wat voorheen in voorvalle betrokke was of voor 1998 gerigstreer is sal ook geoudit word. Die owerheid sal ook ‘n plan vir veiligheidsverbeterings ontwikkel om toekomstige risiko’s te verminder.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassingsbeamptes geluk gewens nadat hulle die persoon aangekeer het wat verlede jaar ‘n brand in die Paarlberg gestig het. Hy sê die skuldigbevinding stuur ‘n streng boodskap dat brandstigting ‘n ernstige misdaad is wat gevolge inhou. Bredell sê wegholbrande is nie net ‘n bedreiging vir die omgewing nie, maar hou ook geweldige gevare in vir menselewens en die moontlike beskadiging van infrastruktuur:
# Lesotho se minister van Buitelandse Sake, Lejone Mpotjoane, is geskok oor die Amerikaanse president, Donald Trump, wat na die land verwys het as een waarvan niemand nog gehoor het nie. Trump het in die Kongres buitelandse besteding gekritiseer, insluitend 146-miljoen-rand vir LGBTQI+ veldtogte in Lesotho. Mpotjoane sê die opmerkings is ‘n bespotting. Hy het Trump genooi om die land te besoek en het Lesotho se belangrikheid beklemtoon. Hy erken die uitwerking van Amerikaanse hulpbesnoeiings, maar sê Lesotho is daartoe verbind om meer self-onderhoudend te word.
# Rugby: Die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus, sê Siya Kolisi sal kaptein van die span bly solank hy goed genoeg is om die eerste keuse in sy posisie te bly. Hy sê hy besef Kolisi sal 36 wees wanneer die volgende Wêreldbekertoernooi in 2027 plaasvind. Erasmus sê daar is ander spelers soos Eben Etzebeth, Salmaan Moerat, Bongi Ngobeni and Pieter-Steph du Toit wat almal alreeds die Bok-span aangevoer het, maar hy sal vir eers volhard met Kolisi solank hy fiks genoeg en goed genoeg is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-814-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-901-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….