Nuus 16:00
BULLETIN 5 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee beskuldigdes in die Joslin Smith-verhoor beweer die polisie het hulle gedwing om te bieg
# Die ANC se nuwe leierskap in KwaZulu-Natal beloof om korrupsie en faksievorming te beveg
# En, die Wes-Kaap is agter met die omskakeling na die Posbank se swartkaart
# Twee van die beskuldigdes in die verdwyning van die Weskus-meisie, Joslin Smith, beweer die polisie het hulle gedwing om te bieg. Jacquin Appollis en Steveno van Rhyn staan tereg saam met Joslin se ma, Kelly Smith. Die mans ontken egter dat hulle ooit by die beweerde misdaad betrokke was. Hulle regsverteenwoordigers het in die Hooggeregshof wat in Saldanhabaai sit, gesê die polisie het hul kliënte gemartel en hulle het erken dat hulle Joslin verkoop het omdat hulle vir hul lewens gevrees het. Die drie word aangekla van ontvoering en mensehandel.
# Die ANC se provinsiale taakspan in KwaZulu-Natal het onderneem om korrupsie en interne verdeeldheid te beveg as deel van sy hernuwingspogings. Die nuutaangestelde leierskap het verklaar lede sal geensins toegelaat word om hul posisies te misbruik vir persoonlike gewin nie. Die taakspan het ook onderneem om partystrukture te herbou, openbare vertroue te herstel en lede te verenig. Sameroeper Jeff Radebe het op ‘n nuuskonferensie gesê hulle fokus op voorbereiding vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing en die verbetering van dienslewering:
# Die Wes-Kaap is agter met Sassa se migrasieproses van goue kaarte na Posbank se swartkaart. Volgens News24 het net 23-persent begunstigdes oorgeskakel teenoor die nasionale gemiddeld van 30-persent. Posbank en Sassa het steeds probleme, soos ‘n gebrek aan dienspunte en kommer oor veiligheid. Wendy Kaizer-Philander van die DA sê daar is tans beperkte aktiewe persele waar ontvangers hul kaarte kan vervang:
# Kanada het ‘n klagte by die Wêreldhandelsorganisasie teen Amerika ingedien oor president Donald Trump se dramatiese tariefverhogings. ‘n Beampte van die organisasie het aan AFP bevestig dat Kanada die klagte gelê het nadat Beijing ‘n soortgelyke klagte ingedien het oor die nuwe tariewe op Chinese goedere. Trump het kort na sy terugkeer na die Withuis ‘n algemene tariefverhoging van 25-persent op invoere van sy groot handelsvennote, Kanada en Mexiko, aangekondig en hulle beskuldig dat hulle nie onwettige immigrasie en dwelmhandel stuit nie.
# Sokker: Die afrigter van Paris Saint-Germain, Luis Enrique, het die werk van Liverpool se hoofafrigter, Arne Slot, geloof. Hy sê Slot het ‘n byna perfekte span gebou sedert hy by Jurgen Klopp oorgeneem het. Dié spanne, twee van Europa se bestes, kom vanaand teen mekaar te staan met PSG wat Liverpool in die Parc des Princes in die eerste ronde van hulle Kampioeneliga se ronde van 16 aanvat. PSG is op pad na nog ‘n Franse titel, terwyl Liverpool met 13 punte voorloop in die Premierliga. Liverpool het albei hulle vorige kragmetings teen PSG op hulle tuisveld, in 1997 en 2018, verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-371-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-918-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….