Nuus 16:00
BULLETIN 3 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Joslin Smith se ma en medebeskuldigdes pleit onskuldig aan die begin van hulle verhoor
# ActionSA kondig ‘n kabinet-hervormingspakket en geen-verdraagsaamheid-korrupsiewetsontwerp aan
# En OUTA waarsku oor die misbruik van ‘n register van staatsamptenare wat weens wangedrag afgedank is
# Die vermiste Weskus-meisie Joslin Smith se ma en twee medebeskuldigdes het onskuldig gepleit aan ontvoering en mensehandel. Die verhoor van Kelly Smith, haar kêrel, Jacquin Appollis, en hulle vriend, Steveno van Rhyn, het vanoggend begin in die Hooggeregshof wat in Saldanhabaai sit. Die meisie was ses-jaar oud toe sy in Februarie verlede jaar uit haar ma se huis verdwyn het. Talle inwoners woon die verrigtinge by. Joslin se ouma, Lauretta Yon, het aan die media gesê hulle hoop Kelly sal na vore kom en vertel waar haar dogter is.
# ActionSA het twee groot wetgewende stappe aangekondig wat ten doel het om die regering te vernuwe. Die kabinet-hervormingspakket sal poog om verkwistende besteding te verminder deur die afskaffing van adjunkministers en die vermindering van buitensporige ministeriële byvoordele. Volgens die party kan 1,5-miljard-rand jaarliks so bespaar word. Athol Trollip van ActionSA het op ‘n nuuskonferensie gesê die geen-verdraagsaamheid-korrupsiewetsontwerp is daarop gemik om teenkorrupsiewette te versterk, strawwe te verhoog, en amptenare van die openbare en privaat sektor aanspreeklik te hou:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy ondersteun die skepping van ‘n sentrale register vir staatsamptenare wat weens wangedrag afgedank word, maar waarsku dit kan misbruik word. Die organisasie voer aan sonder behoorlike toesig kan die register skade berokken aan verklikkers en werknemers wat korrupsie blootlê. Andrea van Heerden van OUTA vra ‘n formele appèlproses om diegene wat verkeerdelik gelys is, te beskerm en strenger strawwe vir amptenare wat versuim om die register in ag te neem wanneer hulle werkers aanstel:
# Die DA vra die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, moet dringend optree teen die Leër se beplande gholfdag die vierde van volgende maand. Woordvoerder Nicholas Gotsell sê luidens die uitnodiging van die hoof van die Leër, Lawrence Mbatha, gaan daar luukse borgskappe wees, gratis wyn en spyseniering vir 420 gaste terwyl Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo sukkel om te oorleef:
# Krieket: Indië se kaptein, Rohit Sharma, het sy span gewaarsku om ‘n kwaai aanslag van Australië te verwag in môre se Kampioenetrofee-halfeindstryd, wat ‘n herhaling is van die eindstryd van 2023 se eendag-Wêreldbekertoernooi. Hulle speel môre in Doebai teen Steve Smith se span om ‘n plek in die eindstryd van die toernooi waaraan agt lande deelneem. Australië is sonder ‘n hele aantal sleutel-spelers, maar is bekend daarvoor dat hulle hul spelpeil verhoog wanneer dit saakmaak. Die Aussies het Indië in 2023 se eindstryd verslaan in hulle laaste eendag-kragmeting.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-48-dollar-. Die prys van goud is twee-duisend-874-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….