Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC het die meeste skenkings van alle politieke partye ontvang van Oktober tot Desember
# Chinese leiers vergader oor hoe om Trump se handelsbedreigings en -tariewe teen te werk
# En rugby: Garry Ringrose gaan Ierland se Sesnasies-wedstryd teen Frankryk misloop weens sy skorsing
# Die ANC het die meeste skenkings verklaar wat van Oktober tot Desember verlede jaar deur enige politieke party ontvang is. Volgens die Verkiesingskommissie het die party skenkings van bykans 13-miljoen-rand verklaar uit ‘n totaal van 18,4-miljoen-rand. Botho Botho Commercial Enterprises van Patric Motsepe het tien-miljoen-rand aan die ANC geskenk. ‘n Organisasie sonder winsbejag wat sedert 1992 betrokke is by demokrasie en ontwikkeling, die Eenheid vir Onderwys en Opleiding, het byna ‘n miljoen-rand betaal vir verblyf en opleiding van ANC-lede. Die DA het skenkings van 4,3-miljoen-rand verklaar.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n weeklange besoek aan die Midde-Ooste afgesluit waar hy beleggingsbelangstelling in Suid-Afrika se infrastruktuursektor wou verseker. Hy het die besoek se rol uitgelig om 100-miljard-rand in privaat sektor-belegging te lok. Macpherson beoog nou om samesprekings te omskep in tasbare uitslae wat bande sal versterk en infrastruktuur-ontwikkeling sal bespoedig om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder:
# Die Campaign for Free Expression kritiseer AfriForum en Solidariteit vir hul beweerde waninligtingsveldtog teen Suid-Afrika. Uitvoerende direkteur Nicole Fritz het aan Newzroom Afrika gesê hierdie regse groepe beskinder die land aktief by die Amerikaanse regering. Die organisasies kry hewige teenkanting omdat hulle na bewering vals aansprake by hulle steunwerwing insluit. Fritz beskryf hul optrede as uiters onverantwoordelik en skadelik vir Suid-Afrika se globale aansien:
# China se leiers gaan volgende week planne beraam oor die beleërde ekonomie en die Amerikaanse president, Donald Trump, se dreigemente oor tariewe en handel. Die vergaderings van die land se Parlement en voorste raadgewende liggaam sal hoofsaaklik die Kommunistiese Party se besluit bekragtig. Dit bied wel ‘n seldsame blik op die leierskap se voorkeure en bekommernisse terwyl hy worstel met ‘n onvoorspelbare Amerika, China se grootste handelsvennoot en strategiese mededinger. Voor die vergadering het die Chinese president, Xi Jinping, erken die land se ekonomie het talle uitdagings.
# Rugby: Die senter Garry Ringrose gaan volgende naweek Ierland se belangrike Sesnasies-wedstryd teen Frankryk misloop na sy rooikaart teen Wallis. Hy is afgestuur vir kop-kontak met die Walliese senter Ben Thomas in Cardiff, en vir drie wedstryde geskors. Ringrose gaan Leinster se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Cardiff misloop en die toets teen Frankryk in Dublin. Hy kan egter beskikbaar wees vir die laaste Drienasies-wedstryd teen Italië indien die skorsing verkort word as hy Wêreldrugby se afrigtings-ingrypingsprogram voltooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-438-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-863-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….